Man swaar gestraf vir veelvoudige moorde

hof-hamer

(Argieffoto)

ʼn 38-jarige man van Lesotho is Dinsdag in die hooggeregshof in Middelburg, Mpumalanga, swaar gevonnis vir die moord op vyf mense.

Volgens brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, is Teboho Thokoane, ook bekend as Maphoshane, gevonnis tot lewenslange tronkstraf op vyf klagte van moord, tien jaar vir poging tot moord, sewe jaar vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen en twee jaar vir die onwettige besit van ammunisie. Die hof het beveel dat die laaste drie vonnisse gelyktydig uitgedien sal word.

Maroela Media het vroeër berig Thokoane was een van vier gewapende mans wat in Oktober 2017 ’n motor in Evander gehuur en na die Steyn-informele nedersetting digby Ogies in Mpumalanga gery het. Daar het hulle op ses mense losgebrand voordat hulle in die huurmotor op die vlug geslaan het.

Vier van die slagoffers is destyds op die toneel dood, terwyl die ander twee na ’n nabygeleë hospitaal gehaas is. Een van die slagoffers het kort daarna in die hospitaal aan sy beserings beswyk terwyl die sesde slagoffer die aanval oorleef het.

Thokoane is ná ’n ondersoek in Evander in hegtenis geneem in verband met hierdie koelbloedige moorde. Die ondersoekspan is later ingelig dat die ander drie verdagtes tydens ’n bakleiery in Evander dood is.

Thokoane het toe op 15 Desember 2020 alleen in die beskuldigdebank gestaan terwyl hy skuldig bevind is aan moord, poging tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

“Die polisiebestuur in Mpumalanga is verheug oor die swaar vonnis. Hulle glo dit is ʼn waarskuwing vir ander misdadigers dat hul misdrywe hulle vir lank agter tralies sal laat beland,” sê Hlathi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gert ·

Vir solank as wat moordenaars nie die doodstraf kry nie sal hierdie slagting in ons land voortduur. Gevangenisstraf is net geen afskrik middel nie. Hulle lê rond in kriminele geselskap wat hulle geniet, kry gratis kos, klere, mediese sorg. Dit is vir die meerderheid kriminele hemel op aarde.

SomeOne ·

volgens die bybel in Exodus 21:23 – 25, is die doodstraf wettig, weg met mrk se teenstand
“dan moet jy gee lewe vir lewe,
24 oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet,
25brandplek vir brandplek, wond vir wond, kwesplek vir kwesplek.”

Casper ·

Sarel ek is geneig om saam met jou te stem.Vir hulle is dit ‘n swaarder straf om in die sweet van hul aangesig hulle brood te verdien in die samelewing.Vir hulle is die opgee van hulle vryheid ‘n klein prys om te betaal vir die gemaak van die tronk en daarom is dit nie vir hulle ‘n straf nie.

SomeOne ·

wanneer gaan dit gebeur dat die ding van gelyklopend verander na aanmekaar/ na mekaar / aaneen lopend

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.