Man, swanger vrou en kinders sterf gru-dood

‘n Foto van die toneel op die N4 (Foto: ER24)

ʼn Man, vrou en drie kinders, vermoedelik ʼn egpaar en hul kinders, is Sondag dood nadat hulle in ʼn gru-botsing op die N4 in Buffelspoort betrokke was.

Annine Siddall, ER24-woordvoerder, sê daar word in dié stadium vermoed dat die bestuurder van die motor beheer oor die voertuig verloor het en teen ʼn betonstruktuur gebots het. Die voertuig het daarna aan die brand geslaan.

Siddall sê nooddienste het Sondag net voor 11:00 by die toneel aangekom. Volgens haar was daar niks wat nooddienste vir die insittendes kon doen nie.

“Die vrou wat in die botsing oorlede is, was swanger. Die kinders, tussen ses en nege jaar oud, en die man, wie se ouderdom nie bekend is nie, is almal op die toneel dood verklaar,” sê sy.

Siddall sê meer inligting oor die botsing was nie onmiddellik bekend nie. Nooddienste wil nie in dié stadium bespiegel oor die slagoffers se oorsaak van dood nie.

ʼn Polisieondersoek is van stapel gestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Oom Kalahari ·

Dit is so hartseer en tragies en klink na hele gesin. Alle medelye en sterkte aan die families en vriende vir hierdie groot verlies. Mag jul hierdie hartseer trauma kan verwerk.

Andrea ·

Ag nee, dis aaklig. Baie jammer vir die mense en hul naasbestaandes. Daardie deel van die N4 is n baie besige en baie gevaarlike stuk pad.

Linds ·

Ek en my 3-jarige dogtertjie is vanoggend daar verby oppad terug Pretoria toe. Dit was verskriklik! Sterkte aan die gesin se naasbestaandes.

johan II ·

Baie hartseer. Dis n baie besige pad daardie, kort nog n paar bane. Moet dalk bietjie beter ontwerp word vir hoë snelheid verkeer om mense vinniger by hul bestemming en af van die pad af te kry. Motor ongelukke bly maar baie hartseer, maak nie saak wie dit is nie.

Fanie ·

Ek was gister oppad van Rustenburg na Pretoria, en by die eerste tolhek vanaf Rustenburg het die dame vir ons gesê ons moet eerder by Mooinooi afdraai en die R104 pad ry deur Majakaneng want daar was `n ongeluk en 6 mense is oorlede. Jammer vir die mense en hulle families, dis bitter hartseer. Baie dankie vir die tolhek dame dat sy ons in kennis gestel het, ek was nogals verbaas

Myntrok ·

In die algemeen word daardie pad dodelik gemaak deur myntrokke wat totaal niks voel vir die veiligheid van die publiek nie. Ek het al hoeveel klagtes by myne ingedien oor hulle eie of hulle kontrakteurs se optrede op daardie pad, maar hulle lag net te lekker vir die inrollende geld.

Anita ·

Die trokke is ‘n probleem maar die grootste probleem is spoed en ongeduld. Ek het al gery van Rustenburg Brits toe by die weegbrug waar ‘n dubbel baan is, dan gaan sekere padgebruikers jou aan die regterkant op die middelman verby. Dit lyk soms of jy parkering soek wanneer jy in die linkerbaan ry

Theresa ·

Bitter tragies. Sterkte aan familie en vriende.
Hoop daar word vasgestel wat die oorsaak van hierdie ongeluk was. Het iemand onwettig oor die pad gedrentel en dit veroorsaak?

BB ·

Baie, baie hartseer, ry ook gereeld die N-4….Skrikwekkend om te sien hoe voertuie mekaar verby steek, terwyl daar aankomende verkeer aangery kom…jy word genoodsaak om dan in die “Geel-lyn ” te ry…om n ongeluk te verhoed…. Moontlik het hierdie persoon ook uitgeswaai om n aankomende voertuig te vermy..!!

Albaster ·

Al ry jy 120km lyk dit asof jy parkering soek. Wie is die persone verantwoordelik vir handhawing van wet en orde op daardie pad, en wanneer gaan daardie persone verantwoordelik gehou word vir die dood van soveel mense?

Anna ·

Maroela haal asb die laaste foto af. Is baie grusaam veral waar persoon se hand gesien kan word. Voor!!! Ek sou nie graag wou he my mense moet dit sien as dit ek was nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.