Man swendel glo duisende uit bejaarde

geld 4

Argieffoto.

ʼn Vier-en-vyftigjarige man sal na verwagting Dinsdag in die Midrand-landdroshof in Gauteng verskyn op aanklag van bedrog. Dit nadat hy glo ʼn bejaarde vrou uit ten minste R500 000 bedrieg het. Dié vrou was onder die indruk dat sy ʼn voertuig koop.

Die 72-jarige vrou het onderskeidelik R300 000 en R200 000 in twee afsonderlike rekeninge aan dié swendelaar betaal.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, sê ʼn voedselverspreider het die Valke verlede week Dinsdag gekontak en beweer dat sy deur die verdagte genader is wat in haar produkte belanggestel het. Sy het toe glo ʼn faktuur en haar onderneming se rekeningbesonderhede vir die verdagte gestuur.

Mulaudzi sê volgens dié vrou is presies R300 000 in haar onderneming se rekening gedeponeer in plaas van R1 073, soos met die verdagte ooreengekom. Die geld is deur ʼn ander persoon as die verdagte in die rekening inbetaal. Sy was agterdogtig en het dadelik die Midrand se polisie gekontak wat die saak na die Valke verwys het vir nadere ondersoek.

Die Valke se ondersoekspan het Vrydag daarin geslaag om die bejaarde vrou as die bron van die R300 000 te identifiseer. Sy het die ondersoekspan ingelig dat sy in totaal R500 000 aan die 54-jarige verdagte na twee verskillende rekeninge oorbetaal het vir die aankoop van ʼn nuwe voertuig.

“Die bejaarde vrou was deur die verdagte mislei aangesien nóg die maatskappy se naam nóg die adres op die faktuur wat hy aan haar uitgemaak het, geldig was,” sê Mulaudzi. Albei rekenings is summier gevries.

Die man is Vrydag in hegtenis geneem. Daar is ook beslag gelê op selfone, sim-kaarte en ʼn hardeskyf waarop dokumente en inligting gestoor is.

Die man word aangekla van bedrog en geldwassery.

Lt.genl. Godfrey Lebeya, die nasionale hoof van die Valke, het die spoedige inhegtenisneming van dié swendelaar verwelkom. Hy het ook sy misnoeë uitgespreek teenoor skelms wat veral weerlose bejaardes teiken.

Sheila Mabale-Huma, die speaker (links) en Mpho Khunou , die uitvoerende burgemeester (regs) (Foto: Rustenburg Local Municipality, ANA)

Intussen is ʼn 26-jarige man in hegtenis geneem nadat hy glo die Rustenburg-munisipaliteit in Noordwes uit meer as R6 miljoen probeer swendel het. Hy sal na verwagting Dinsdag in die Rustenburg-landdroshof verskyn.

David Magae, woordvoerder van die Rustenburg-munisipaliteit, bevestig dat dié man Vrydag probeer het om gesigsmaskers wat hy glo op ʼn bedrieglike wyse bekom het aan die munisipaliteit te verkoop.

Hy het beweer dat hy vir ʼn nie-regeringsorganisasie werk wat persoonlike beskermende toerusting soos gesigsmaskers verskaf. Hy het ook beweer dat dié organisasie aanvanklik die gesigsmasker vir die munisipaliteit wou skenk. Die man het gesê hy sal 70% van dié beskermende toerusting verskaf op voorwaarde dat die munisipaliteit R6 miljoen vooruit betaal.

“Dit was op daardie stadium dat die uitvoerende burgemeester en speaker agterdogtig geraak het. Hulle het ondersoek ingestel en bevind dat hy besig is om die munisipaliteit te bedrieg. Die polisie is gekontak,” vertel Magae.

Die man is in hegtenis geneem terwyl hy ʼn voorlegging aan die munisipaliteit gedoen het. Hy word aangekla vir die oortreding van die afsonderingsregulasies. Hy was ook in besit van ʼn onwettige dienspermit.

Tydens die ondersoek is ook vasgestel dat die man ʼn hangende saak van bedrog teen hom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.