Man swendel miljoene vir 13 jaar

Stephanus Johannes van Eerden het in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria verskyn. (Foto: Verskaf)

ʼn Man is Vrydag swaar gestraf nadat hy oor ʼn tydperk van 13 jaar meer as 30 mense uit minstens R8 miljoen geswendel het.

Dié reusebedraggeld is onwettig bekom deur beleggingskemas vir onder meer Bitcoin.

Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê Stephanus Johannes van Eerden (62) is vroeër skuldig bevind op 71 aanklagte van diefstal nadat hy skuld beken het.

Hy het Vrydag in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria verskyn waar hy 15 jaar tronkstraf opgelê is.

“Die beskuldigde het vir ʼn mindere vonnis gevra weens sy swak gesondheid, maar die landdros het gesê dat swak gesondheid nie as ʼn verskoning of magtiging kan dien om ʼn misdaad te pleeg nie,” sê Mahanjana.

Van Eerden het tussen 2008 en 2021 verskillende beleggingskemas bedryf, dit voorgehou as wettige ondernemings en mense oorreed om daarin te belê.

Hy is aanvanklik in 2017 in hegtenis geneem en op borgtog vrygelaat nadat een van die 36 klaers ʼn saak by die Brooklyn-polisiestasie aanhangig gemaak het. Daarna is ʼn aantal dossiere oor die hele land vir dieselfde soort oortreding geopen en in Januarie vanjaar is hy weer in hegtenis geneem. Hy is sedertdien in polisieaanhouding.

Die NVG het al die verskillende dossiere byeengevoeg en gesamentlik aan een hof voorgelê.

Een van die klaers het in die hof gesê dat hy al sy geld aan die sogenaamde beleggingskemas verloor het en dus nou genoop is om sy eie huis uit te verhuur net om ʼn bestaan te maak.

ʼn Aanklaer in die hof, Willem van Zyl, het in die hof aangevoer dat Van Eerden ʼn loopbaanbedrieër is en dat die gemeenskap teen hom beskerm moet word.

“In 2017, toe Van Eerden om borgtog aansoek gedoen het, het hy ʼn ernstige gesondheidsprobleem as ʼn versagtende faktor genoem. Nadat hy egter borgtog toegestaan is, met die voorwaarde om nie weer dieselfde misdaad te pleeg nie, het hy slegs vier dae later presies dít gedoen en aangehou misdade pleeg tot sy inhegtenisneming vroeër vanjaar.”

Met die vonnisoplegging het die landdros gesê Van Eerden se optrede bewys dat hy nie ware berou vir sy optrede getoon het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.