Man terug in hof wat versuim om versekeringsbedrog te betaal

Roland Williams (Foto via Twitter)

Roland Williams, ʼn voormalige kommunikasiedirekteur van die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit, het Maandag in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Port Elizabeth verskyn op aanklag dat hy die bepalings en voorwaardes van sy vonnisoplegging in 2018 vir bedrog oortree het.

Williams is Maandagoggend by sy huis in Port Elizabeth in hegtenis geneem deur die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke).

Angelisa Ngcakani, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het gesê dieselfde hof het Williams in Mei 2018 tot 36 maande korrektiewe toesig gevonnis, ʼn vonnis van vier jaar tronkstraf opgeskort, hom met R30 000 beboet en opdrag gegee om R96 000 terug te betaal wat hy op ʼn bedrieglike wyse van Santam bekom het.

“Hy moes Santam deur maandelikse bedrae van R3 500 terugbetaal van 3 Mei 2018 tot 31 Mei 2020. Santam het ʼn beëdigde verklaring by die staat ingedien dat die laaste betaling, wat Williams gemaak het, in Oktober 2019 was en hy skuld die maatskappy R40 000,” het Ngcakani gesê.

Williams het in Januarie 2018 skuld beken op aanklag van versekeringsbedrog toe hy meer as R115 000 geëis het vir ʼn ongeluk wat nooit gebeur het nie. “Hy het moedswillig omvattende skade aan sy BMW aangerig om die eis in te dien en Santam te bedrieg ná hy enjinprobleme met sy motor ondervind het.”

Williams moet Dinsdag weer in die hof verskyn waar hy kan aansoek doen om regshulp. Hy is vrygelaat op borgtog van R1 000.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Coolbanana ·

Kommunikasiedirekteur! Hoogs betalende pos maar is bereid on alles prys te gee deur skelmstreke… Gaan my verstand te bowe

Hennie J ·

Absoluut ongelooflik. So n senior persoon in die samelewing wat so aanjaag en dan nog versuim om sy ligte vonnis na te kom!

Alet ·

Gewese direkteur en nie geld om sy kar reg te maak nie. Eish was of verkeerde direkteur of direkteur vir verkeerde plek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.