Man tronk toe ná gewelddadige betogings

Een van die voertuie wat omgekeer en aan die brand gesteek is. Foto: Verskaf

ʼn 30-jarige man is op verskeie aanklagte skuldig bevind vir sy aandeel in gewelddadige betogings in Botrivier in die Wes-Kaap en tot tronkstraf gevonnis.

Luwandiso Fungwana is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis nadat hy aan aanranding met die doel om ernstig te beseer, openbare geweld en kwaadwillige saakbeskadiging skuldig bevind is, het lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, gesê.

Skade van meer as R1 miljoen is tydens die betogings in Junie 2018 aangerig. Fungwana is op 7 Junie 2018 deur lede van die polisie se eenheid vir openbare orde in hegtenis geneem tydens ʼn betoging op die N2.

Die ander voertuig wat ook omgekeer en aan die brand gesteek is. Foto: Verskaf

“Gemeenskapslede van die New France- informele nedersetting het die N2 met klippe versper weens ontevredenheid oor behuising.” Twee voertuie, een van die Caledon-verkeersdepartement en die ander van die Caledon-polisie, is omgekeer en aan die brand gesteek.

Volgens Nkwalase het lede van die eenheid vir openbare orde die groep betogers in ʼn nabygeleë berg ingejaag waarna Fungwana polisiebeamptes met klippe bestook het. Hy is ook geïdentifiseer as een van die mense wat die voertuie omgekeer en aan die brand gesteek het en is in hegtenis geneem.

Die Valke se afdeling vir misdaad teen die staat het die saak ondersoek en Fungwana vervolg.

Fungwana is tydens vonnisoplegging ook onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Maljan

Betoging oor gratis huise, gratis water en krag, gratis munisipale dienste en sommer gratis teerpaaie om daardie mahala huise ook. Hulle woon in Xanadu. Hoekom betoog, breek en brand hulle is SA?

Wielspore

Die voorbok is nou die agterbok, verkeerde besluite en optrede gee slegte gevolge.

Linda

Vyf jaar is hopeloos te min, na twee en n half jaar kom hy uit die tronk en plunder verder !!!

Manna

5 jaar tronkstraf is te min hy hoort minstens 20 jaar in die tronk ongeag of hy wit of swart is

KrokodilBotha

Dis n eerste keer