Man tronk toe ná student se sleepdood

Jared Lomas. Foto: Facebook

“Jared was groter as die lewe self en het nie laat dinge hom onderkry nie. Hy het dit hanteer en aanbeweeg. Dít is my seun se nalatenskap.”

“Ek moet seker maak ons onthou die mens wat Jared was. Dit help nie om heeltyd te dink aan wat gebeur het nie,” het Lloyd Lomas, Jared (23) se pa, Maandag gesê.

Dit kom nadat Philip Bunge (27) verlede week begin tronkstraf uitdien het nadat hy in April aan strafbare manslag skuldig bevind is in verband met Jared se dood in Julie 2015.

Bunge is in Junie tot vyf jaar tronkstraf gevonnis. Hy sou verlede week ’n aansoek om verlof tot appèl bring, maar het dit laat vaar waarna sy borgtog teruggetrek is en hy tronk toe geneem is om sy vonnis te begin uitdien.

Volgens Lomas is dit vir hom die ergste dat Bunge volgens hom nooit berou vir sy dade getoon het nie. “Ek dink nie hy het bedoel om Jared dood te maak nie, maar tot aan die einde het hy volgehou met sy weergawe en het hy nie berou getoon of jammer gesê nie. Hy het selfs een keer tydens die verhoor gesê dat sy lewe nou al vir twee en ’n half jaar op ys geplaas is.”

Lomas was elke dag van die verhoor in die hof teenwoordig. “Dit maak nie vir my ’n verskil dat hy tronkstraf gekry het nie. Indien die hof sou besluit hy moes tot gemeenskapsdiens gevonnis word, sou ek dit aanvaar het. Ander familielede meen egter dis skokkend dat hy net tot vyf jaar tronkstraf gevonnis is.”

Philip Bunge. Foto: Facebook

Maroela Media het vroeër berig Jared is dood nadat die bestuurder van ʼn bakkie hom in Langstraat, Knysna, aan sy kraag gegryp, weggetrek en saamgesleep het. Jared was op 12 Julie in die vroeë oggendure saam met sy vriende op pad na hul motor nadat hulle die aand by die Oesterfees gewerk het.

Die bakkie het verbygekom en langs hulle gestop. ʼn Rusie het tussen die groep en die bestuurder ontstaan omdat die bestuurder glo ongelukkig was omdat hulle skynbaar in die pad geloop het.

“Die bestuurder het Jared aan sy kraag gegryp en (Jared se vriende) het aanhou sê hy moet net rustig raak en dit is nie nodig om te baklei nie. Die ou het skielik net weggetrek terwyl hy Jared vasgehou het. Jared het geval en die bakkie het bo-oor sy kop gery,” het Lloyd destyds gesê.

Jared is per ambulans na die hospitaal gehaas, maar is met sy aankoms dood verklaar. Bunge, wat die bakkie bestuur het, is later die oggend by sy huis in hegtenis geneem. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het destyds aanvanklik besluit om nie die saak op die hofrol te plaas nie en Bunge is vrygelaat. Bunge is egter weer later aangekla.

Jared het deeltyds BCom finansiële bestuur studeer terwyl hy gewerk het om vir sy studies te betaal. Lomas het vertel dat sy seun ʼn gedrewe man was wat hard gewerk het om sy drome te bewaarheid.

“Hy was altyd vriendelik en altyd spraaksaam. Daar is so baie herinneringe. Ek het my seun verloor. Niks sal hom ooit terugbring nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Anoniem ·

Hoe kan hy net van strafbare manslag aangekla word??? Hy was aggresief teenoor iemand gewees en as gevolg daarvan het die kind sy lewe op so ‘n manier verloor??? En net 5 jaar???

Ella Bella ·

Lomas, jy is ‘n man met ‘n groot hart. Mag die Here jou seen en heling bring na julle groot hartseer. Hopelik sal Bunge iewers op die punt kom om te vra vir vergifnis.

Thinus Erasmus ·

Die totale ontoerykendheid van SA (on)regstelsel!
Was ek die regter het ek :
1) Die saak van manslag na moord verander,
2) die feit dat hy geen berou toon as ERNSTIGE verswarende omstandighede verklaar (selfs al was dit ‘n ongeluk kan jy mos nie anders as om baie jammer te wees dat jy iemand se lewe geneem het, wat jou nie bedreig het nie)
3) die moord wapen (voertuig) verbeurd aan die staat verklaar, gelas dat dit verkoop word en die opbrengs aan familie gegee word. Indien minder verkry word, moet die volle laaste kostes van die oorledene deur die skuldige of sy familie betaal word.
4) die skuldige se bestuurderslisensie lewenslank opgeskort
5) en laastens dat die skuldige lewenslank vonnis, en slegs parool sal kan kry wanneer hy die verantwoordelikheid van sy dade besef, erken en dan die familie van die oorledene in persoon om vergifnis vra.

Adriaan ·

n Skrale 5 jaar vonnis? Indien ek die pa was, sou ek dit nie so gelate aanvaar het nie. Ek hoop die familie appelleer daarteen.

Nettie ·

Ek stem met baie kommentators hier bo saam: 5 jaar is ‘n skrale vonnis en dit vir strafbare manslag, terwyl dit duidelik was dat Bunge kwaadwillig opgetree het toe hy Jared aan die kraag gegryp het en weggetrek het terwyl hy hom steeds vasgehou het. Weer eens moes hy, soos Oscar Pistorius, kon voorsien het dat sy aksie iemand se dood kon veroorsaak het.

Maar …………….. aan die anderkant: selfs al dien hy net een jaar van sy straf uit en kom hy op “goeie gedrag” vroeër uit: die reg het immers sy beloop geneem. Hy is aangekla, verhoor en gestraf. Bunge sal vir die res van sy natuurlike lewe leef met die wete dat hy iemand se dood veroorsaak het.

‘n Leuen het kort beentjies – selfs al lieg hy vir homself en voornemende werkgewers (indien enige sy kriminele rekord wil nagaan); dit gáán hom inhaal die een of ander tyd. Sy lewe lank sal dit hom jaag, selfs al het hy geen gewete nie.

Local Annie ·

Lyk dit vir jou of die wete hom pla Nettie? As hy nou al se dat twee en half jaar van sy lewe op ys was, sal die wete hom vorentoe pla?

Deon ·

Waarom wou die NVG die saak teruggetrek het… Klink asof Binge geldjies het om mense daar te beinvloed?

Pop ·

Hy gaan waarskeinlik net n jaar sit. En hyt geen les geleer nie. Geen berou oor sy agressie en moord op n mens dui vir my op psigotiese neigings.

Biebie ·

Maroela Media, weet julle dalk wat geword het van die man wat in Vanderbijlpark 2 studente dood gery het voor VUT, so jaar of 2 gelede? Stil stil is die storie onder die mat ingevee… Gehoor dit was ‘n ANC lid. Hulle is mos untouchable. Sou graag ‘n opvolg berig hieroor wil hê, want die man behoort ook in die tronk te sit.

ES ·

Skokkend… kan nie glo dat enige mens deur woede so iets aan iemand anders doen nie…

Stomgeslaan ·

Bullebak. Sit 5 jaar en die kind van 23 se lewe is …VERBY.? Kon hy nie maar uitgeswaai het en verby gefoeter het nie?? Persoonlik voel ek sy straf was te lig.

GM ·

Dis vreeslik hartseer. Die pa is op ‘n manier reg. Wat help dit om te baklei sodat die ‘man’ ‘n swaarder vonnis kry? Niks gaan sy seun terugbring nie. Ek sou nie so groothartig gewees het nie. Ek sou sy lewe ook wou verwoes het, 5-jaar is belaglik min. Maar op die ou einde van die dag is dit jyself wat die meeste gaan ly, want jy het nog ‘n gewete. Die krimineel voel ‘n veer. Ek kan nie glo die regstelsel het die ouers so gefaal nie.

Matts ·

In die land is dit maklik om met moord weg te kom – net nie bedrog pleeg nie – dan sit jy sommer tot 15 jaar!

Joan Riekert ·

Hoe op aarde leef jy met jouself saam nadat jy bo-oor iemand se kop gery het?????

Jaco Gatvol ·

Manslag is as dit n ongeluk was. Die was opset. DIT WAS MOORD

Sandy ·

My hele liggaam raak sommer lam as ek sulke dinge lees. Meer oor Jared. Die kind het sy lewe verloor omdat iemand anders hom bo Jared gesien het en gedink het dit is reg om mense so te behandel. My moed sak tot in my skoene as ek dink dat die persoon nie eens wys hy is spyt oor wat hy gedoen het nie, en oor sy simpel daad, moet Jared se familie die hartseer gevolge dra. Dit kon vermy gewees het as jou ego nie so groot was nie, Philip. As jy nie aan die “eie ek” gedink het nie. Jy het miskien nie nou spyt nie, maar glo my, die soort ding sal by jou spook as jy ouer is en ‘n bietjie verstand kry. Ek hoop dan dat jy se jy is jammer. Al is dit vir God.

tamboti ·

Hierdie land en alles daarbinne kort ‘n “make over”
Ons publiek, wat almal in die staat se salarisse betaal, almal se dinges opvreet en almal se vloerlap is, het geen mag in sake wat ons direk raak nie, DIT IS SO ONREGVERDIG!!!!!!!!!

kas ·

Tamboti,jy veralgemeen,hoe raak hierdie saak jou direk.Id jy familie van die oorledene

tamboti ·

Kas ek veralgemeen want die land se regstelsel se score is 6%, van die bitjie wat die SAPD wel vang!

Pop ·

Sandy as hy nie nou spyt is nie sal dit nooit gebeur nie. Tyd maak dinge vaag. Hierdie is n gevaarlike man wat lewenslank moes gekry het.

Pieter ·

Nie ek of enige van my sakevriende sal die moordenaar ooit aanstel nie.

Lana ·

Hopelik is ek verkeerd, maar ek sê – onthou maar hierdie man se naam en van. Ons sal weer van hom hoor wanneer hy uit die tronk kom. Weer aan die verkeerde kant, want dié straf gaan hom nie regkry!!

Lizelle Gibson ·

Well done vi SA se regstelsel. ‘n Volle 5 jr vi moord!

kas ·

Ek neem aan die mense wat hier kommentaar lewer was in die hof en stem dus nie saam met die skuldigbevinding op die strafbare manslag klag nie.Twintig jaar vir strafbare manslag,belaglik,moord belaglik want hy is nie daaraan skuldig bevind nie.Die probleem is,is goeie regters is net te hore op sosiale media en nie in die howe nie.Siestog.

kas ·

Thinus as jy die regter was sou jy die beskuldigde verwoes het.Ek hou van jou punt no 5.Wat sal dan gebeur as hy na ‘n dag in die tronk onvoorwaardelik die familie smeek om vergifnis en bely dat hy verkeerd gehandel het.Kan hy dan op parool vrygelaat word meneer die regter want dit is wat jy se.

tamboti ·

Kas, ek veralgemeen ja want die hele land se se regstelsel score 6% – ja dit is wat die amptelike skuldigbevindingskoers is!
Tweedens, die skuldige het ‘n ander “onskuldige” mens se lewe wederegtelik geneem, hy behoort nie gestraf te word of dit ‘n “ongelukkie” was nie. Sonder om geprovokeer te word, sonder om agterna berou te toon! Kry jy hom jammer omdat jy sy gedrag as aanvaarbaar vind?
Om jou vraag te beantwoord, ja as hy waarlik berou toon, die oorledene se familie om vergifnis vra en hom baie goed in die tronk gedra – dan eers kan hy vir parool in aanmerking kom volgens die gewone reels.
Die feit dat hy vir manslag en nie moord aangekla is nie, was nie regverdig nie! nEk weet van iemand wat sy eie vrou, na ‘n rusie en sommer langs die pad afgelaai en doogery het, los gekom op manslag, en hy was nog onder die invloed! Dit meneer is ‘n skande!

Thinus ·

Indien hy aan die vereiste voldoen en sy gedrag in die tronk baie goed is, sal hy volgens normale proses aansoek doen vir paraal.

kas ·

Thinus,eerstens is sy gedrag vir my afstootlik en ek keur dit glad nie goed nie.Wees dus kwaad vir die regstelsel.’n Baie gerespekteerde advokaat het ‘n klient van hom wat aan moord skuldig bevind is ‘n vonnis van vyf jaar laat kry nadat die man erken het dat hy sy vrou vermoor het.Dit was die wyse waarop die die saak ondersoek is en die wyse waarop die advokaat die saak verdedig het.’n Baie bekende advokaat was die staatsaanklaer

kas ·

Thinus,nie een van ons was daar nie en daarom weet ons nie wat gebeur het nie.Niemand sal weet of daar provokasie was wat aanleiding gegee het tot die voorval nie en niemand sal weet wat die omstandighede was wat die regter tydens vonnisoplegging in ag geneem het nie.Ek kan jou die versekering gee dat die saak verseker moord sou gewees het indien die staat opset kon bewys.Onthou die direkteur van openbare vervolging het besluit op strafbare manslag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.