Man tydens betoging by myn doodgeskiet

Kenneth Mputle. Foto: ANA.

Inwoners van die Robega-omgewing in Noordwes het hulle tot geweld gewend nadat ʼn 37-jarige man glo deur veiligheidswagte van ʼn plaaslike myn doodgeskiet is.

Die polisie in dié provinsie het Vrydag gesê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Kenneth Mputle is doodgeskiet tydens ʼn betoging by die Bafokeng Rasimone-myn in Robega naby Rustenburg.

“Dit is nog nie duidelik wie die slagoffer geskiet het nie omdat die gemeenskap en die [myn se] sekuriteit glo op mekaar geskiet het,” het lt.kol. Adele Myburgh, woordvoerder van die polisie, gesê.

Volgens haar is die polisie Woensdag teen 19:40 na die toneel ontbied en het beamptes op die liggaam van ʼn man afgekom. “Ek kan nie in dié stadium bevestig wie vir die slagoffer se dood verantwoordelik is nie – die gemeenskap of die veiligheidswagte,” het Myburgh gesê.

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord.

Inwoners het Donderdag paaie in die nedersetting versper uit protes oor die dood van hul mede-inwoner. Hulle voer aan dat Mputle deur mynveiligheid by die noordelike skag geskiet is toe hulle betoog het om te eis dat die myn voormalige werknemers weer in diens neem.

Die gemeenskap voer aan daar is nie vir hulle ʼn geleentheid gegun om hul griewe te lug nie en hulle is in stede daarvan met rubberkoeëls en skerp ammunisie ingewag.

Tommy Mntande, hoofman van die nedersetting, het gesê die groep het geen wapens by hulle gehad nie. “Die doel was om ope kommunikasie met die myn se bestuur te begin. Ons kan nie verstaan wat gebeur het dat hulle op ons begin skiet het nie, want ons was nie gewapen nie,” het hy gesê.

“Ons was buite die noordelike skag toe ʼn njala van die myn reguit op ons afgery gekom het en begin skiet het. Almal het vir skuiling gesoek, maar een van ons het ongelukkig gesterf.”

Mputle is glo dood as gevolg van twee skote, een in die kop en een in sy rug.

Inwoners het Donderdag paaie in die nedersetting versper uit protes oor die dood van hul mede-inwoner. Foto: ANA.

Die gemeenskap se eise het die wysiging van die behuisingskontrakte met die Waterkloof Hill-landgoed ingesluit. Volgens die afgedankte werknemers is die huise op ʼn huur-om-te-koop basis verskaf, maar dit het aan die lig gekom dit is nie die geval nie. Hulle wil glo die huise nou koop.

Royal Bafokeng Platinum (RBPlat), wat die myn besit, het gesê ʼn groep van meer as 100 betogers, wat voormalige werknemers insluit, het gepoog om onregmatige toegang tot die skag te verkry.

“Die perseel was gesluit en beveilig deur die myn se veiligheidspersoneel. As ʼn laaste uitweg, en om skade aan die eiendom en die myn se personeel te voorkom, het die myn se veiligheidspersoneel die skare uitmekaar probeer jaag met rubberkoeëls en verfballe,” het die myn in ʼn verklaring gesê.

“Tydens die voorval is ʼn individu in die groep geskiet en is dood. Op grond van voorlopige bewyse, wat beeldmateriaal insluit, glo ons dat die skietery uit die groep betogers gekom het. Die oorledene was nie in die diens van RBPlat nie.”

ʼn Vervoerbelt is verbrand en die toegangshek en waghuisie is ook tydens die betoging beskadig.

“Die betoging spruit uit die afdanking van 14 werknemers deur die maatskappy in Desember 2017 ná onbeskermde industriële aksie, insluitend die intimidasie van ander werknemers en beskadiging van eiendom. Die aksie was glo omdat ʼn plaaslike munisipaliteit verkeerdelik die dienste van talle huise naby die Waterkloof landgoed afgeskakel het.”

Die myn het ʼn beroep gedoen om die plaaslike gemeenskap om nie geweld te pleeg, dreigende gedrag te openbaar en eiendom te beskadig nie.

Hulle het gesê hul neem kennis van die protesaksie by Rustenburg en vra vir kalmte deur alle partye.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

snoefie ·

ek het geen simpatie met stakers nie. as hulle ongelukkig in hulle werk is, kan hulle bedank en die werk wat hulle dink hulle verdien, gaan soek. die protes optredes, stakings, eise en hebsugtigheid staan niemand meer aan nie.

Hans ·

Nou wil ek net weet as die oorledene nie in diens was van die myn wat het hy dan daar gesoek? Dit is net n bewys dat daar altyd mense betrokke is in stakings en protes aksies wat eenvoudig niks daarmee uit te waai het nie. So laat ons nou maar wag vir die ondersoek en die beeldmatriaal wat die myn het om te sien en hoor wat het werklik gebeur. Dit is ook maklik om te sê ons het nie wapens gehad nie, tog was daar mense betrokke wat nie daar gehoort het nie.

Anoniem ·

Daar is nie n saak van moord nie hulle het op die sekuriteit geskiet wat gelei het tot self beskerming.

Houtoog ·

Jy is só reg Hans. In my (apartheid)-tyd op die myne is jy doodeenvoudig weggejaag met onbehoorlike gedrag, maak nie saak of jou velletjie wit was. GEEN nonsens is geduld.
4de laaste par.: ‘vervoerbelt’ is seker ook genoem ‘n ‘vervoerband’?

PJC ·

As ń mens met vuur speel gaan jy een of ander tyd jou vingers verbrand so hierdie klomp verdien geen simpatie nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.