Man tydens Brits-huisroof met kookwater gemartel

misdaadtoneel

Argieffoto

ʼn Man van Brits in Noordwes is Maandagaand ure lank in sy huis deur gewapende rowers aangehou, aangerand en met kookwater gemartel.

Die man is in ʼn ernstige toestand in die Mediclinic Brits opgeneem waar hy tans behandel word.

Divan Wolmarans, die slagoffer se buurman, het aan Maroela Media gesê hy het omstreeks 00:30 vanoggend wakker geword van sy buurman se hulpkrete. “Toe ek buite my huis kom om te kyk wat aangaan, het my buurman vir my gesê ek moet asseblief na sy huis toe kom, want daar is groot moeilikheid,” het Wolmarans gesê.

Hy vertel sy buurman was by sy volle bewussyn, maar het erge beserings opgedoen en was baie deurmekaar. “Sy hande was met draad agter sy rug vasgebind en daar was baie bloed soos hy geslaan is. Die aanvallers het ook kookwater oor sy rug uitgegooi,” het Wolmarans gesê. Hy het gesê die buurman se vriendin is ook met kookwater gebrand, maar haar beserings was minder ernstig.

“Hy het vir my gesê hy en die vriendin het omstreeks 21:00 by die huis gekom en hy het by die deur van die huis die alarm afgesit. Dit is toe dat drie verdagtes uit die donker gekom en hulle oorval het. Een van die verdagtes het ʼn vuurwapen teen sy kop gedruk en hulle by die huis in gedwing. Hulle het gesê hy moet die kluis oopmaak en toe hy gesê het hy het nie kontant nie, het hulle hom gemartel.”

Wolmarans het gesê volgens die buurman het die marteling vir ure aangegaan voordat hy uiteindelik die kluis vir die rowers oopgemaak het. Die verdagtes het daarna met onder meer ʼn reusebedrag kontant, klere, bankkaarte en voertuigsleutels gevlug.

Die buurman en sy vriendin se monde is albei toegeplak, maar hy kon naderhand daarin slaag om sy mond oop te kry en om hulp te roep. Wolmarans het met sy aankoms op die toneel dadelik hulp op die plaaslike buurtwaggroep ontbied en ʼn reaksie-eenheid en ambulans was vinnig op die toneel.

“My buurman is hospitaal toe geneem, maar sy vriendin wou nie hospitaal toe gaan nie. Sy het gesê sy sal vandag mediese behandeling kry,” het Wolmarans gesê.

Volgens Wolmarans word daar vermoed dat die aanvallers moontlik inligting ontvang het dat die buurman kontant in sy kluis aanhou en dat hulle hom daarom geteiken het. “Die verdagtes het vir hulle gesê hulle soek nog geld en hulle gaan vanaand terugkom om dit te kry. So dit lyk amper asof dit ʼn inside job was,” het hy gesê.

Hy het gesê die rowers het ʼn heining agter die huis geknip om toegang tot die perseel te verkry en het ook tuinligte se gloeilampe losgedraai om die tuin in donkerte te hul. Volgens Wolmarans het die rowers ook die eenheid waarop die beeldmateriaal van die veiligheidskameras in die huis gestoor word saam met hulle gevat.

“My buurman bly al 15 jaar in daardie huis en dit is die eerste keer dat so iets gebeur. Daar is voorheen by hom ingebreek, maar toe het hulle weggekom met ʼn paar klein goedjies soos die televisie en so aan. Daar is nou en dan voorvalle van misdaad in Elandsrand, maar nooit iets so ernstig soos wat gisteraand gebeur het nie. Om te sien hoe hy gelyk het, herinner ’n mens omtrent aan ʼn plaasaanval. Hulle het hom erg aangerand.”

Ao. Mpeile Talane, woordvoerder van die polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig en gesê ʼn saak van huisroof word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Hy het ʼn beroep gedoen op enigiemand met meer inligting oor die voorval om kol. Moteane op 012 381 6034 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Popcorn ·

Dit was ‘n ‘inside’ job meneer. Niemand wil dit erken nie, as mens dit sê word jy summier deur ander kommentators uitgehaal, maar ongelukkig wys statistieke dat 70% aanvalle wel ‘inside’ jobs is, as die persone dit nie self doen wat by jou werk of gewerk het nie, kry die inbrekers die inligting by jou werkers. Soms deel die werkers in die buit, soms word hulle en hulle families gedreig om die inligting deur te gee aan vreemdelinge wat dan inbreek en die goed kom steel. Daar is al by soveel inbrake spesifiek na goed gevra wat die gesin besit, ook soms na ‘n tweede kluis (wat wie van weet)? Jou huiswerker. Solank as wat ons in ontkenning is, so lank gaan hierdie goed net aanhou gebeur. Ek hoop regtig julle herstel ALTWEE van hierdie verskriklike marteling en slegte ervaring. Fisies en Emosioneel. Daar het julle nou alles reggedoen, met alarm en al en steeds is julle aangeval, dit is NIE die slagoffers se skuld soos wat so baie wil glo nie. Baie sterkte.

Stofskoen ·

Stem saam.

Maak eerder self jou huis skoon, dit is die veiligste, en as jy eers ‘n daaglikse roetine om dit te bestuur is dit nie so moeilik nie.

As jy in ‘n ander land gebly het sou jy heel moontlik dit in elk geval so moes doen.

Bly veilig.

Popcorn ·

Huisroof? Dan maak julle sake van poging tot moord teen mense wat in ‘n ligte bakleiery by die KFC betrokke raak? MAAK onmiddellik ‘n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer of poging tot moord oop .. sal nooit verstaan hoe ons regstelsel werk nie. Jy wys vinger vir iemand en jy word van poging tot moord aangekla, iemand word met kookwater verbrand en liederlik geslaan en vermink en HUISROOF word ondersoek???

al ·

Ja ek stem saam! Absurd dat poging tot moord nie bygevoeg is noe.

Karma ·

Mense, ons moet onthou: in SA werk ALLES anders as in enige ander land ter wêreld. Dit is nou …. AS dit werk ……….

Ek stem: doen jou eie huis- en tuinwerk eerder; nie dat dit jou sal vrywaar van misdaad nie, maar dit sal beslis maak dat die mamparras nie die ‘inside and outside’ van jou eiendom en lewe ken nie. Hierdie was BESLIS ‘n ‘inside job’ – die huiswerker of tuinwerker het vir die skelms die inligting gegee oor ‘n kluis, groot bedrae kontant en waar die eenheid waarop die beeldmateriaal van die veiligheidskameras in die huis gestoor word, geleë is.

En weer meer paraat/oplettend. As ek my huis nader kyk ek rondom my rond – ligte wat nié brand as dit moes nie of ‘n hek wat oopstaan of honde wat my nie verwelkom wanneer ek inkom nie, laat onmiddellik (vir my) die rooi ligte flikker. En ek bêre elke liewe aand elke liewe ding wat gebruik kan word om my seer te maak – ketel, strykyster, selfs my stoof skakel ek by die hoofskakelaar af.

Ek weet ek kan nog altyd ‘n misdadiger se teiken raak, maar ek maak dit vir hulle so moeilik as moontlik!

Meone ·

En die skuldiges sal nie aan die pen ry nie want dis witmense wat aangeval is… Laat Fikile Mbalule ons wys hy is ernstig oor die soort van aanvalle & die skuldiges vastrek..

san ·

Alweer net n saak van huisroof, wat van poging tot moord of aanranding met die doel om ernstig te beseer???

Hanna ·

Regtig??? ‘n Saak v huisroof wat ondersoek word? You must be joking… Wonder of n saak v huisroof ook v toepassing sou wees indien die aanvaller wit en die slagoffer swart was? Ek glo nie. G’ n wonder die misdaad statistiek word nie vertrou nie, want dis beslis nie akkuraat nie.

Anoniem ·

Ek sê nog steeds dat iemand iewers ‘n datasentrum oprig, en elkeen van ons stuur elke foto van persone wat verby stap op straat met ons selfone na die sentrum. Alle inligting moet foto, datum asook ligging waar foto’s geneem is na sentrum gestuur word. Dan kan daar opgetree word teen enige skuldiges…

oumie ·

Anoniem jy is n ‘man’met n plan Dit is n begin daai hoor

Karma ·

Jy kan dit nie sommer doen nie, Anoniem – iemand kan jou dalk wurg met die POCA-wet. Maar dit sal nuttig wees as ons mense wat vir ons verdag voorkom, afneem en sulke inligting na ‘n sentrale databasis aanstuur – hoop net daar is mense wat die stelsel kan werk!

Stiena ·

Ai as ons maar net so goed kan spel soos wat ons kan kritiseer en FW en gesante aanval….. die spelling is absoluut pateties. Wys nogal heelwat van die persoon self.

Marius ·

Almal is bekommerd oor die misdaad en JY is bekommerd oor spelfoute op n selfoo n met een vinger getik op klein sleutels.

Theresa ·

Huisroof, aanranding met die doel om te vermink, marteling en poging tot moord. 2x.
Beslis ‘n inside job. Het te veel inligting om te weet sonder om ingelig te wees.
Hoop die vieslike goed word gou vasgetrap en gevonnis.

Lizl ·

Stem saam met almal, dis poging tot moord , ennn ja, dank maar vir ou Martha en Simon af, dis die beste. Ons werk self voldag, maar my man weier om tuindienste of `n tuinjong indiens te neem. Sny self gras en maak self beddings skoon. Of, gaan kry daai outjie op die hoek wat so swaar kry, of jou buurman se tiener seun ( as hulle wil !!!) en betaal liewers hulle om vir jou te werk.

Dirk ·

Maak nie saak wat hul doen aan slagoffers nie, aanklag is altyd huisroof en more/oormore is hul weer op vrye voet en uit op borg sonder teenkanting van die staat.

thelsa ·

Die erf wat in donkerte was moes ‘n duidelike teken vir die inwoners gewees het. Stevie Wonder sou dit agtergekom het. Ons moet paraat wees mense !!

Vermeende ·

Nou hoekom ondersoek hulle nie n poging tot moord saak nie????

Tanya Kruger ·

Waarom het die vriendin mediese hulp geweier? Wonder hoelank hy en die vriendin al saam is…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.