Man tydens kerkdiens vasgetrek

Argieffoto: SAPD, Facebook

Argieffoto: SAPD, Facebook

ʼn Man sal na verwagting Dinsdag in die hof verskyn nadat hy Sondag tydens ʼn erediens in ’n kerk in hegtenis geneem is toe ʼn ongelisensieerde vuurwapen glo in sy besit gevind is.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, het gesê polisie het ʼn oproep van ʼn anonieme persoon ontvang dat die man ʼn kerk in KwaThema aan die Oos-Rand binnegekom het met ʼn vuurwapen in sy besit. Die polisie het die man tydens die erediens gekonfronteer en die vuurwapen in sy besit gevind. Hy is in hegtenis geneem op aanklagte van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en die vermoedelike besit van gesteelde goedere.

Volgens Dlamini is die vuurwapen slegs een van 34 ongelisensieerde vuurwapens waarop Gautengse polisie in die afgelope week tydens operasies aan die Oos-Rand beslag gelê het. Daar is ook in die week beslag gelê op sewe gesteelde voertuie en nege verdagtes is in hegtenis geneem.

Tydens een van die operasies is vyf verdagtes in Katlehong, ongeveer 35 km oos van Johannesburg, in hegtenis geneem. Een van die verdagtes is egter daartydens doodgeskiet. Volgens Dlamini word die ander vier verdagtes verbind met ses voorvalle van sakeroof in Vosloorus en Tokoza, asook twee sake van moord. Hulle het reeds in die hof verskyn en bly in polisieaanhouding, aangesien die polisie vermoed dat hulle ook by ander misdaadvoorvalle betrokke was.

In nog ʼn voorval is ʼn verdagte wat vir ernstige misdade gesoek is Saterdag by die Greenstone-winkelsentrum in Edenvale in hegtenis geneem. Twee ongelisensieerde vuurwapens en ʼn BMW X5, wat vroeër in Pretoria-Wes gekaap is, is in sy besit gevind, het Dlamini gesê.

“By nadere ondersoek het die polisie vasgestel dat die verdagte tans op borgtog uit is vir ʼn saak van moord in Thembisa en ʼn transito-rooftog in Limpopo. Daar word vermoed dat die verdagte moontlik met ander misdaadvoorvalle verbind kan word en dit sal ondersoek word,” het Dlamini gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Gerd Lourens ·

Ek kan nie glo dat borg so maklik toegestaan word nie.

Dis kriminele. Kriminele leef van die opbrengs van misdaad en het gewoonlik nie vaste werke nie.

Dus – gee vir ‘n werklose krimineel borg en wat gaan hy doen??? Aangaan om misdade te pleeg.

Dee ·

En lees die name van die prokureurs wie hul brood en botter verdien deur kriminele uit tronke te hou – dikwels so Afrikaans soos die lede van hierdie forum.

Xa ·

Dee is heeltemal reg. n Prokereur wat misdadigers beskerm is net so sleg en doen ware menseregte n groot onguns aan. Ja, n saak het 2 kante en soms het selfs onskuldiges die tipe prokereurs se hulp nodig maar die wat misdadigers beskerm selfs al weet hulle duidelik dat hul klient n misdadiger is, sulke prokereurs is die wat die regsbedryf so n slegte naam gee.

Tiger ·

Borg tog vir twee verskillende misdade in twee provinsies?Hoe werk dit?Is daar nie ‘n sentrale register wat die regters kan wys dat ‘n verdagte reeds vir ‘n vorige misdaad op borg uit is nie???

Theresa B ·

Hoe kan sulke boewe borg kry?! Goeie genade tog! Ek hoop die SAP is wakker en dat ek nie weer more moet lees hulle het ontsnap nie…………………………..

Tollies ·

Ai tog arme prokureurs dink ok maar net, hulle volg seker ook maar net stappe anders hoef daar mos nie so n beroep te gewees het nie eenvoudig net een regter wat se jy is skuldig gaan tronk toe en daar slaan die hamer ons almal wens dit kon so wees maar ongelukkig nie so maklik

Gerty ·

Wat maak die ou met n vuurwapen in die kerk… miskien wou het n skietgebedjie doen

Wat-ek-lees ·

Dalk was hy agter die kollekte aan . . . Wonder of die polisie iets ingegooi het . . .

Vivian [mnr] ·

Kan u dit nie moontlik maak dat ons die resepte
print nie

Landi Slatter ·

Dagsê Vivian,

Ons moes ongelukkig die funksie wat mens toelaat om teks op die webwerf te kopieer of dat iemand kan regsklik en dan die dokument te kan uitdruk, deaktiveer, aangesien sommige webwerwe ons inligting onregmatig gebruik het.

Maak gerus óf ʼn skermskoot óf klik regs bo op jou webblaaier (“browser”) op die knoppie wat soos drie horisontale lyntjies lyk (op Chrome en Firefox) of ʼn sirkelvormige ratjie (Internet Explorer). Dit maak verdere opsies oop en daar kan jy dan klik “print”. As jy nie ʼn drukker het nie, kan jy die dokument dalk in ʼn .pdf-formaat (elektronies) druk – dan kan jy makliker daarmee werk.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.