Man tydens ‘padwoedevoorval’ doodgeskiet

Argieffoto: SAPD/Facebook

Argieffoto: SAPD/Facebook

ʼn Man is Woensdag in Johannesburg doodgeskiet nadat hy ‘n ander motoris glo daarvan beskuldig het dat hy ʼn stopteken verontagsaam het.

Hoofsupt. Wilfred Kgasago, woordvoerder van die Ekurhuleni metropolisie, het gesê die voorval het omstreeks 07:40 in Bonaero Park, oos van Johannesburg, plaasgevind. “Die slagoffer is in die gesig geskiet toe hy die ander motoris gekonfronteer het.”

Volgens Kgasago het die vermeende skieter twee kinders saam met hom gehad tydens die voorval. Die vermeende skieter, wat in ʼn VW Jetta gery het, het glo ʼn stopteken in Daeraadstraat verontagsaam, waarna ʼn man in ʼn Isuzu-bakkie hom agternagesit het.

Albei voertuie het stilgehou en die bestuurder van die Isuzu het uitgeklim en na die VW Jetta geloop. ʼn Woordewisseling het ontstaan voordat die bestuurder van die Jetta glo ʼn vuurwapen uitgepluk en die ander man in die gesig geskiet het.

Die vermeende skieter is in hegtenis geneem en sal binne 48uur in die Kempton Park-landdroshof verskyn. Kgasago het gesê die naam van die 53-jarige slagoffer kan eers bekendgemaak word wanneer al sy naasbestaandes van sy dood in kennis gestel is.

Volgens Kgasago het albei mans se vroue na die skietery op die toneel aangekom en was hulle histeries.

News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Neptunus ·

Mense se senuwees is rou geskaaf deesdae weens verskeie redes. Een vonkie is genoeg om die kruitvat te laat ontplof.

Die reëls van padwoede is:

1. Moet nooit die ander party agterna sit nie.

2. Bly in jou voertuig te alle tye.

CHRISTA ·

Moord, roof en verkragting is mos ons land se nasionale sport!!

Johan ·

Ek pas dit nie altyd toe nie, maar die goue reël is om geen emosie te wys op die pad nie, nie eers ‘n gesig trek nie, NIKS. Ons bly in ‘n gevaarlike land. Dis nie altyd maklik nie, maar die moeite werd, ongeag wat die ander motoris doen of gedoen het.

zahn ·

Johan, en dit is hoekom dit gaan soos dit gaan. Terwyl ander padvarke aangaan soos malgoed en mense doodry en ongelukke maak, knip jy nie eers ‘n oog nie. Die spreekwoord lui: Die deler is net so goed soos die steler. Lui dit iewers ‘n klok? Jou stilswye word gesien as goedkeuring, en dit is deels waarom dit elke dag net erger en erger gaan. Die oorlede man het seker te ver gegaan, maar die skieter in hierdie geval, sal bitter min oorkom, gaan seker tydelik breindood pleit of iets. Die probleem is die swak wetgewing, wat selektief toegepas word.

SNEL ·

In die land kan jy net asem haal, dan het jy reeds te ver gegaan. Ek glo nie die ou het te ver gegaan nie, maar dis mos niks om iemand dood te maak nie. Ek wens meer mans wil Johan se siening inneem, want hulle voel vere vir n lewe en die man is die hoof van die huis, die broodwinner en beskermer en as hy uit die weg geruim word, is die gesin n maklike teiken. Wat help dit om n padvark aan te vat, gaan dit hom keer om dit weer te doen? Is jou stem so verm dat hy bang gaan word….NEE. So hoekom jou lewe in gevaar stel. Wens meer mans wil rustig raak agter n stuurwiel en dinge laat gaan, ons vrouens se senuwees hang aan n vlenter in n kar met so man, want jy weet….as een n fout begaan is hy reg om hulle op die regte pad te help; en wanneer help een hom uit die weg uit. Nee wat, kyk noord en skiet voort, die wetter is nou eens en altyd wetteloos, los en laat gaan en wees net dankbaar niks het gebeur. Ja, hy kan seker paaie met iemand anders kruis, maar kom ons hoop dis n “broer” of n “groterige-vol-gepakte-voertuig”, ek sal nie wil hê enige pa of man moet sy lewe op die spel sit vir iemand anders nie, jy het n gesin en familie om aan te dink. Los die wetters, dat hulle makaar uitroei.

Pietie ·

Zahn,
So volgens jou argument moet Johan eerder wèl iets doen en dan die gevaar staan om sy lewe te verloor. Dis mos absurd. Daar is ‘n groot verskil tussen reg optree en korrek optree. Dis bv reg om aan te dring dat geregtigheid geskied. Dit is korrek om ‘n pad-buffel se registrasie nommer te gaan aanmeld by die owerhede. Wat daarvan sal word is ‘n ander gesprek.

boer ·

Stem 100% saam met jou. Die verkeersbeamptes moet hulle verdomde werk begin doen.
Ek raak hoogs die m@er in as iemand, die verkeerswette verontagsaam,en het al self paar keer mense agterna gesit,maar ongelukkig is my plaas bakkie te stadig :)

Neptunus ·

Pietie is in die kol. Niemand mag die reg in eie hande neem nie. Sover ek weet mag mens in elk geval nie ‘n burgerlike arrestasie uitvoer vir ‘n verkeersoortreding nie, so waarom die oortreder nader? Soos Pietie sê, kry die registrasienommer en beskrywing van die voertuig en lê ‘n dossier by die SAPD aan. As hulle traag is om te help, kyk op hul webblad en kla by die provinsiale hoof.

Dalene ·

Daar word nie teenoor “boewe” opgetree nie….dit is hoekom dit lyk soos dit lyk!!!!

Eliza-beth ·

Die ergste vir my is dat die kinders gesien het hoe hul pa reageer: eerstens het hy die wet verontagsaam deur nie te stop nie en toe sommer iemand voor hulle doodgeskiet. En nou – wie gaan weer die meeste ly? Die kinders… hul pa kon homself nie beheer en het iemand vermoor. Hulle moet met daardie etiket die res van hul lewe rondloop – hul pa is ‘n moordenaar!

SNEL ·

Ek kry net nuus op Maroela, hoor toe vandag by iemand dat die kinders in die kar was en dat die voorval voor hulle plaasgevind het. Klink my die man is wit, en weereens; nog n blanke man wat dan sy kop verloor het (saam met daai ander 2 wat die een sy vrou en die ander sy meisie vermoor het). Dis skokkend, hoe kan n pa so voor sy kinders optree. Daai arme kinders het nou n knou en moet seker gaan vir sielkundige behandeling. Hoe moet daai ou wat die sneller getrek het se vrou ook voel, om te dink wat jou kinders deur gemaak het. Ek dink nie mens sal in jou wildste drome dink dat jou man tot so iets instaat is nie, en om dit te kroon, doen hy dit nog as die kinders by hom is. Baie sterkte aan die skieter se vrou en kindertjies en die ander familie wat n man en pa verloor het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.