Man tydens winkelroof geskiet

Argieffoto

‘n Man in sy veertigs is Dinsdagaand tydens ʼn gewapende rooftog by ʼn winkel in die Groenkol-woonbuurt in Middelburg, Mpumalanga geskiet

Sers. Gerald Sedibe, provinsiale woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê vier gewapende mans het die winkel binnegestorm en vuurwapens op werknemers en klante gerig.

“Hulle het vir die mense gesê daar is ʼn rooftog aan die gang en het almal gedwing om op die grond te gaan lê. ʼn Man is in die proses geskiet,” het Sedibe gesê. Maroela Media verneem die man is in sy gesig gewond.

Die verdagtes het op die vlug geslaan met ʼn onbevestigde bedrag kontant en sigarette. “Die man kon daarin slaag om homself na ʼn nabygeleë hospitaal te haas waar hy steeds mediese behandeling ontvang,” het Sedibe bygevoeg.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Sake van poging tot moord en gewapende roof word ondersoek.

Enigiemand met inligting oor die voorval kan sers. George Nkwana by 013 249 1402 kontak.

Die man se familie wou nie in die stadium enige kommentaar lewer nie.

*Die slagoffer se naam is uit die berig verwyder op versoek van die familie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.