Man uit kapingsnagmerrie gered danksy SMS

Foto: Verskaf

ʼn Oos-Kaapse motoris wie se voertuig gekaap is en met wie die kapers ure lank rondgery het, is gered danksy ʼn selfoonboodskap wat hy tydens die beproewing ongesiens vir sy suster kon stuur.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, woordvoerder van die polisie, het gesê die man is Vrydag omstreeks 09:30 in Kwazakele naby Port Elizabeth deur drie kapers geteiken. Volgens Janse van Rensburg het die mans ʼn vuurwapen op die motoris gerig, in sy Toyota Avanza geklim en hom gedwing om na Njoli-plein te ry waar ʼn vierde verdagte in die voertuig geklim het.

Die kapers het deurentyd ʼn vuurwapen op die man gerig gehou en hom gedwing om na die Fiveways-gebied te ry. Die slagoffer sê die verdagtes het daarna toestelle gebruik om twee voertuie se afstandbeheerders te blokkeer en sodoende te verhoed dat die voertuie kan sluit, waarna hulle items uit dié voertuie gesteel het.

Dit was in dié tyd dat die slagoffer, wat steeds sy selfoon by hom gehad het, daarin kon slaag om ʼn selfoonboodskap aan sy suster te stuur om haar in te lig dat sy voertuig gekaap is en dat sy die polisie moet bel.

Die kapers het die slagoffer daarna opdrag gegee om in die rigting van Summerstrand te ry. Op pad daarheen het lede van die plaaslike blitspatrollie, wat besig was met patrollerings, die Avanza opgemerk wat pas as gekaap aangemeld is. Hulle het die voertuig agternagesit en die slagoffer is gedwing om weg te jaag nadat die kapers opgemerk het die polisie is op hul spoor.

Die polisiebeamptes kon egter daarin slaag om die voertuig in Marineweg voor te keer. Een van die verdagtes het uit die voertuig gespring en gevlug, maar die drie ander is in hegtenis geneem. “Die eienaar van die voertuig was ongedeerd, maar erg in skok,” het Janse van Rensburg gesê.

Die verdagtes sal Maandag in die hof verskyn op aanklagte van ontvoering en kaping. Daar is ook op die voertuig beslag gelê as deel van die polisie se forensiese ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Essa ·

Goed kop gehou onder uiters moeilike omstandighede. Baie bly Polisie was ook op hul beste. Baie bly oor goeie afloop van so ‘n aakligheid.

Oom Kalahari ·

Dankie aan almal betrokke en paraatheid van die polisie vir hul spoedige optrede en om motoris se veiligheid te kon verseker. @ Jannie, so waar en wie is nou regtig.

Christo ·

Bly dat daar ook positiewe beriggewing vir die eerlike manne van die SAPS is. Ek verstaan van ‘n polisiebeampte wat werksaam is by ‘n bekende stasie aan die Wes-Rand dat daar soveel korrupte lede op die stasie is dat nie nie-korrupte lede gedreig word met die en dat hulle gesinne ook geteiken word. Jare gelede is sekuriteit hoofde by myne elke jaar verplaas om korrupsie te voorkom. Ek stel voor dat dit ook met die SAPD gedoen word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.