Man val na sy dood tydens staptog

Die soekgeselskap by die Helderberg-natuurreservaat. (Foto: Verskaf)

Die liggaam van ’n man (58) is Vrydag na ’n grootskaalse soektog in die Helderberg-natuurreservaat in die omgewing van Somerset-Wes in die Wes-Kaap gevind. Die man het vermoedelik na sy dood geval toe hy in die reservaat gaan stap het.

Johann Marais, woordvoerder van Wildernis-soek-en-redding (WSAR), het in ’n verklaring gesê die man se vrou het hom Donderdag as vermis aangemeld nadat hy vroeër die dag die Sugarbird-roete gaan stap en teen 16:00 nog nie teruggekeer het nie.

Volgens Marais het veldwagters in dié stadium reeds die roete gepatrolleer. Daar was egter geen teken van die man nie.

Die bestuurder van die reservaat het WSAR omstreeks 17:00 ontbied en ’n soekgeselskap van 17 mense is van stapel gestuur. Die soektog het teen laat aand niks opgelewer nie en is Vrydag voortgesit.

Volgens Marais is die man se liggaam vroeër vandag gevind. “Hy is noodlottig beseer toe hy êrens van die pad afgeval het. Die familie het die hartseer nuus ontvang.”

Marais het gesê die liggaam sal later wanneer die weer dit toelaat van die berg gebring word.

Die oorledene woon in die omgewing van die reservaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Oljetter ·

Die gebrekkige Afrikaans in MM se verslaggewing is n steen des aanstoots.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.