Man val vyf meter ver op ongelukstoneel

Die waterinspeksiegat (Foto: Verskaf)

ʼn Werknemer van ʼn insleepdiens het Sondagaand in ʼn waterinspeksiegat geval op ʼn ongelukstoneel in Soweto, Gauteng.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê paramedici is net ná 21:30 na ʼn toneel in Tshepisong, Soweto, ontbied waar twee voertuie gebots het. Een persoon het ligte beserings opgedoen en is per ambulans na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.

Terwyl paramedici nog op die toneel was, het ʼn werknemer van ʼn insleepdiens ook op die toneel aangekom om die voertuie weg te sleep.

“Toe die werknemer uit sy voertuig klim, het hy ongeveer vyf meter ver in ʼn waterinspeksiegat, wat reg langs sy voertuig se deur was, geval,” sê Herbst. Die gat was oop en nie bedek soos dit veronderstel is om te wees nie.

Paramedici het hulle na die pyp gehaas om die man te help.

Volgens Herbst is ʼn paramedikus van ʼn private nooddiens en ʼn reddingstegnikus in die inspeksiepyp af om die operateur te gaan help. Hy was ernstig beseer.

“Die man is met spesiale toerusting na die oppervlak gebring waar hy verder behandel is. Hy is gestabiliseer en op die toneel behandel.”

As gevolg van die man se ernstige beserings is hy per ambulanshelikopter na ʼn hospitaal geneem vir verdere mediese sorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kokerboom ·

Weereens faal plaaslike owerheid om basiese dienste aan sy inwoners te verskaf en nêrens sal jy ‘n greintjie skuldgevoel of verantwoordelikheidsin bespeur!!!Dringende ingryping nodig!!!

Blikke ·

Iemand her skynbaar die deksel van die inspeksiegat meet nodig gehad om dit op n skrootwerf te gaan verkoop vir n skamele paar pennies……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.