Man van Covid-19-bedrog verdink

Lelokanyana Isak Letseng (Foto verskaf deur die Valke)

Lelokanyana Isak Letseng (44) het Vrydag in die Bloemfontein-landdroshof verskyn op aanklag van bedrog.

ʼn Voorlopige ondersoek deur die spesiale ondersoekeenheid by die departement van indiensneming en arbeid het op die beweerde bedrog afgekom.

Kapt. Christopher Singo, woordvoerder vir die Valke, sê Letseng se maatskappy, Bophelo Botle Solutions, het tussen Maart 2020 en Desember 2020 aansoek gedoen vir Covid-19 se tydelike werkgewer-werknemer-verligtingskema (Ters).

“Die aansoek is ingedien namens persone wat na bewering deur die pandemie geraak is. Die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) het nege verskillende betalings met ʼn totaal van R800 000 aan die maatskappy oorbetaal tussen September 2020 en Desember 2020.”

Dit het egter aan die lig gekom dat die aansoekers nooit vir Bophelo Botle Solutions gewerk het nie.

Die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) se eenheid in Bloemfontein, wat ernstige handelsmisdaad ondersoek, het verder ondersoek ingestel.

Letseng is Vrydag in Bloemfontein in hegtenis geneem. Die saak is tot 15 Mei 2024 uitgestel. Hy is vrygelaat op borgtog van R5 000.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.