Man van korrektiewe dienste vermoor vrou glo

Foto: Reint Dykema

’n Amptenaar van die departement van korrektiewe dienste in die Oos-Kaap is in hegtenis geneem nadat die liggaam van sy vrou, ook ’n amptenaar van die departement, vandeesweek in die egpaar se huis in Aliwal-Noord aangetref is.

Sy vrou (38) het kneusplekke aan haar liggaam opgedoen en twee knuppels is langs haar aangetref.

Die egpaar is verbonde aan die Goedemoed-gevangenis op die dorp.

Ao. Moitheri Bojabotseha, woordvoerder van die polisie, het in ’n verklaring gesê die polisie is Donderdag na ’n huis in Cathcartstraat in Aliwal-Noord ontbied.

Al die deure van die huis was egter by hul aankoms op die toneel gesluit. Die eienaar van die huis is toe ontbied om die huis met sy spaarsleutel oop te sluit.

“Die polisie het die liggaam van ʼn vrou op haar rug op die vloer in die slaapkamer aangetref met kneusplekke aan haar liggaam en twee knuppels langs haar.”

Volgens Bojabotseha dui ’n voorlopige ondersoek daarop dat ’n bakleiery tussen 12:00 en 13:00 tussen die egpaar uitgebreek het. Die man het na bewering die vrou só aangerand dat sy aan haar beserings beswyk het.

Die vrou se man is elders in die huis aangetref en in hegtenis geneem.

Die verdagte (38) sal nou na verwagting Maandag in die plaaslike landdroshof op aanklag van moord verskyn.

Nkosi Phathekile Holomisa, die adjunkminister van korrektiewe dienste, het intussen die voorval veroordeel. “Die departement neem sulke dade van misdadigheid baie ernstig op en ons sal hierdie blatante verontagsaming van die wet deur korrektiewe amptenare nié duld nie.”

Volgens Holomisa is die land diep getraumatiseer deur mans se dade van geweld jeens vroue en kinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.