Man van massamoord in Oos-Kaap verdink

Argieffoto (Foto: Kent Williamson)

Die polisie in die Oos-Kaap het ʼn deurbraak gemaak in die ondersoek na die moord op agt mense op 29 Januarie 2023 in Kwazakele in Gqeberha.

Op dié dag is elf mense by ʼn huis in Maqandastraat in Kwazakele geskiet. Agt mense is dood en drie het ernstige beserings opgedoen.

Brig. Tembinkosi Kinana, woordvoerder van die polisie, sê die ondersoek het onthul dat die eienaar van die huis sy verjaarsdag gevier het. Tussen 17:15 en 17:30 het twee onbekende gewapende mans by die huis ingestorm en op die gaste losgebrand. Sewe mense (drie vroue en vier mans) is op die toneel dood verklaar. Vier mense (twee vroue en twee mans) is na ʼn hospitaal geneem. Een van die slagoffers het aan hul beserings beswyk en die dodetal het op agt gestaan.

Die eienaar van die huis is een van die sterftes.

Lt.genl. Nomthetheleli Mene, provinsiale polisiekommissaris, het opdrag gegee dat ʼn taakspan die voorval sal ondersoek. Die polisie het ʼn grootskaalse soektog na die verdagtes van stapel gestuur.

“Lede van die provinsiale taakspan het Vrydagoggend omstreeks 03:00 inligting opgevolg oor verdagtes wat moontlik met die skietery verbind kan word. Die span het bestaan uit lede van die eenheid wat ernstige gewelddadige misdaad ondersoek, die spoorspan, misdaadintelligensie en lede van die eenheid vir misdaadbestryding.”

Die ondersoekspan is na ʼn woonstelblok in Walmer waar ses verdagtes vermoedelik geskuil het. Met die span se aankoms, het hulle slegs een verdagte, ʼn 33-jarige man, aangetref. Ondersoek het sy betrokkenheid by die misdaad bevestig.

Sy vermeende medepligtiges het gevlug voor die polisie opgedaag het.

“Die man is in hegtenis geneem en is na Mount Road-polisiestasie geneem Die polisie is tans op soek na die oorblywende voortvlugtiges van Walmer Flats.”

Die verdagte sal Maandag in die New Bright-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.