Man vas ná 2 fietsryers sterf

Fietsryongeluk op 6 Februarie 2016 op die M4 naby Broadway-afrit Foto: Rescue Care

Fietsryongeluk op 6 Februarie 2016 op die M4 naby Broadway-afrit Foto: Rescue Care

ʼn Man is in hegtenis geneem op aanklag van vermoedelike dronkbestuur en strafbare manslag nadat twee fietsryers Sondagoggend dood is toe hy hulle op ʼn snelweg in Durban getref het.

“Die 33-jarige man sal na verwagting binnekort in die hof verskyn,” het brig. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, gesê.

Maroela Media het vroeër berig die ongeluk het kort ná 05:00 op die M4, ook bekend as Ruth First-snelweg, plaasgevind. Die twee fietsryers was deel van ʼn groep van 40 fietsryers wat verby die Hypermarket-by-the-Sea gery het, toe ʼn motor in hulle ingeploeg het. Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het bevestig die twee mans is dood voor paramedici by die toneel opgedaag het.

Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care, het gesê die bestuurder van die motor het geringe beserings opgedoen.

Die groep fietsryers was glo besig om te oefen.

‎Die 33-jarige man is egter nie die enigste persoon wat op die toneel in hegtenis geneem is nie. “Die Durban-Noord-polisie en die polisie se ongelukeenheid was op die toneel toe ʼn ander bestuurder een van die amptelike voertuie gestamp het,” het Naicker bygevoeg. “Die man is ook in hegtenis geneem op aanklag van vermoedelike dronkbestuur en roekelose of nalatige bestuur.” Dié man sal ook binnekort in die Durbanse landdroshof verskyn.

Zinhle Mngomezulu, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse Padverkeersinspektoraat, het gesê dit is onwettig om met ʼn fiets op ʼn snelweg te ry, tensy dit ʼn “beheerde geleentheid” is, byvoorbeeld ʼn wedren waar padverkeersowerhede die verkeer beheer en beperk. Sy het ook gesê dit is onwettig vir voetgangers om op ʼn snelweg te wees.

Dit is nie dadelik duidelik of enige van die fietsryers in die groep aangekla word van fietsry op ʼn snelweg nie.

Willies Mchunu, provinsiale LUR vir vervoer, het sy woede uitgespreek oor die afsterwe van die twee fietsryers, en teleurstelling oor die aantal dronkbestuurders wat gevang word. “Die getal padsterftes is kommerwekkend en moet veroordeel word. Ons doen ʼn beroep op elkeen om versigtig te bestuur in gebiede wat deur fietsryers gebruik word, aangesien hulle ook ʼn reg op ons paaie het,” het Mchunu gesê.

“As ʼn regering sal ons ons veldtogte opskerp om veiligheid vir fietsryers‎ te bevorder, en ons sal saam met alle rolspelers en belanghebbendes werk. Dit is onaanvaarbaar dat ʼn bestuurder, wat glo verantwoordelik is vir hierdie voorval, boonop [vermoedelik] onder die invloed van alkohol was,” het Mchunu bygevoeg. “Die feit dat nog ʼn bestuurder binne die omgewing van die toneel ook [vermoedelik] onder die invloed van alkohol bestuur het, is ʼn aanduiding dat mense die wet minag en doelbewus verantwoordelik is vir die dood van ander padgebruikers. Ons betoon ons diepste meegevoel met die families van die twee fietsryers.”

Meer as 444 motoriste is tydens die feesseisoen in die provinsie in hegtenis geneem vir dronkbestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

40 Kommentare

E.K. ·

Wanneer word fietsryers vasgevat wat maak soos hulle wil? Dit verskoon nie wat hier gebeur het nie, maar wanneer word fietsryers vasgevat omdat hul geen ag gee op ander padgebruikers nie?

Oli5 ·

Ek hoop jou kinders wat fietsry is so mooi gehoorsaam en kom elke keer veilig by die huis. Almal maak foute. Ongelukkig het ‘n fiets nie ‘n kans teen ‘n motor nie. Volgende keer as jy ‘n fietsryer op verkeerde plek sien ry. Gee hom ‘n stamp. Dis mos sy skuld.

johan ·

N fietsryer het net soveel reg op die pad as n motoris…en ja hy moet ook die reels nakom..op n openbare pad met soveel fietsryers is daar gewoonlik n escort voertuig en agter. Dus moet die motoris kennis neem van so groep wat saamry. Ekself was in so ongeluk betrokke. Die motorbestuurder het ons blatant en met voorbedagterade van die pad af gedwing. Ons was slegs 4 gewees waarvan 2 van ons geval het lat ons k.. My fiets afgeskryf en ek nerfaf..op 32km/h op teer. Hy was ook onder invloed. Nee my vriend as jy nie n fietsryer is nie, sal jy nie verstaan nie

Knerries ·

Fietsryers op die snelweg?? Baie jammer oor die insident, maar rerig, hulle mag nie op snelwee ry nie.

Michiel ·

E.K. – ek is met jou – ek het juis die afgelope naweek foto’s asook ‘n video geneem van hoe ongeskik die fietsers is en absoluut arrogant reageer indien mens probeer verbykom.

Reinhardt ·

Fietsryers maak soos hulle wil juis omdat motorist niks voel vir n fietsryer. Daar is nie genoeg fietsbane wat fietsryers beskerm nie. Ek se nie alle fietsryers is engeltjies nie, maar motorist kan maar bietjie meer bedagsaam wees.

Hannelie ·

Ag E.K. en Michiel kry ‘n lewe. Almal is nie ongeskik nie. Michoel jy praat van hoe “ongeskik die fietsers is”. Wel sommiges van hul ken hul padreëls beter as sommige motor voertuig bestuurders en taxis. En motor ryers is soms pleinweg net moedswillig. Die feite is, hulle is nogsteeds dood gery deur ‘n man wat onder die invloed was. Hoop nie dit kom jul kinders of enige familielid eendag oor nie.

Marius ·

Dit is 5 uur op ‘n Sondag oggend – dis ok om dronk te bestuur, maar dis verkeerd om fiets te ry? My hart gaan uit aan al die families, sterkte in hierdie bitter moeilike tyd.

maroela ·

Dit is beslis verkeerd om onder die invloed te bestuur en om roekeloos te bestuur enige normale bstuurder moet die omstandighede waar hy bestuur inag neem , logies hoort dit so , alhoewel fiets ryers ook n verantwoordelikheid het, in hierdie geval wat maak die fietsryers op n snelweg ?? En dit onbeheerd . ????. Hulle moet natuurlik vervolg word .

lies ·

Dat die dronk bestuurder gearresteer is reg maar wat de joos soek fietsryers op n snelweg? Arresteer hulle ook!!

Ekke ·

motor bestuurders is arrogant en dink die pad behoort aan hulle. Ek is ‘n runner en hardloop in geel strepe uit die verkeer se pad uit. En met elke run moet ek ten minste een keer op die sypaadjie spring vir ‘n kar wat blatant op my afry….. nee kom aan motorist leef en laat leef! ons runners en fiets ryers het ook ‘n reg op die pad nes jy! Ek het al tot die gevolgtrekking gekom dat die selfsugtige bestuurders JALOERS is op ons wat ons sport beoefen…. is ek reg?

HenkL ·

Jy is so ver verkeerd soos die ooste van die weste verwyder is. Dit is heeltemal reg dat fietsryers ook ‘n reg op die paaie het, MAAR NIE OP SNELWEE NIE!!!!! Daar is baie ander paaie om te ry, so wie is nou die arrogantes. Om te ry waar hulle weet dit is teen die wet. Kyk eers in jou eie boesem voordat jy ander wil aanvat.

Karma ·

Ekke, jy hoort LANGS die pad en nie IN die pad nie. Die geel baan is nie daar vir jou om in te draf nie, die is ‘n NOODBAAN. Aan al die pro-fietsryer kommentators hier: betaal enige fietsryer lisensiegelde om die paaie te mag gebruik? En wat soek fietsryers op ‘n snelweg? Dit maak die feit dat die motorbestuurder (na bewering) onder die invloed van drank was, nie reg nie. Elke saak het egter twee kante.

Ek kan persoonlik getuig van baie ongeskikte fietsryer-gebruike. Op pad na ons plaaslike winkelsentrum is daar lieflike voetganger en fietsrybane aan beide kante – maar 90% van fietsryers in ons dorp, gebruik dit nie en ry IN die motorbaan.

Dan kry jy mos nou dié tekens wat motoriste maan om ‘n 1,5m afstand tussen die fietsryer en jou motor te hou. Nou, as die fietsryer REEDS in die motorbaan ry en die motoris nog 1,5m van die fietsryer moet verbyhou, beteken dit die motoris moet in die aankomende verkeersbaan ry. En moenie vergeet van die fietsryers wat so graag in spanne van twee-twee of drie-drie langs mekaar ry nie – die gesels is tog só lekker!

Hmmm, ja, die arme fietsryers, nè?

alida ·

Ek is woedend vir die dronkbestuurder. Hy hoort nie agter ‘n stuurwiel nie!!!!! Die fietsryers hoort nie op ‘n snelweg nie. Daar is baie ander paaie buite die stad of in die voorstede om te ry.
Dit is skrikwekkend om te sien hoe die fietryers in spitstyd tussen die verkeer is. Dit is verkeerd. Gaan ry waar dit stil is.

Ekke ·

so HenkL ons veralgemeen nou sommer….. Ek praat van wat ek elke dag sien en beleef op die paaie…. my kommentaar is nie spesifiek op die berig gerig nie…. ek haal my hoed vir fiets ryers af – hoeveel van hulle gaan uit hul pad uit om tussen my en ‘n motoris te ry sodat ek veiliger is. en so tussen my en jou…. ek’s dalk ‘n runner MAAR ook ‘n bestuurder so ek sluit myself ook in by motoriste.

alida ·

As die regering al die geld wat net so verdwyn en dan agterna nie rekenskap kan gee van waar dit is nie kan daardie geld gebruik word om ‘n afsonderlike baan op die paaie te maak vir fietsryers. Dan is dit mos regverdig. ‘n Motor hoort nie in daardie baan nie en die fiets hoort nie in die pad nie.

Reinhardt ·

Ek kan jou verseker Stad Kaapstad het groot planne met betrekking tot fietsbane.
Die probleem is die mentaliteit van mense. Karre parkeer in die fietsbane, mense staan daar ens. Ek wil almal wat kan aanmoedig om fiets te ry werk toe. Hoe meer fietse daar op die pad is, hoe meer fietsbane sal daar gebou word.

E.K. ·

Ek het verwag almal sal in my keel afklim – kom ASB enige Sat en/of Son in die Cradle of Mankind en SIEN hoe fietsers ry. Hier is mense wat heir woon en NET oor naweke kan gaan inkopies doen maar ons kan nie op ons paaie ry weens groepe fietsers. Ek het ook gneoem dis jammer dat die persoon dood is maar soos gewoonlik sien die wat op hul perdjies spring net wat hul wil sien. Kom ry hier met jul motors en sien of dit vir julle maklik en ‘n plesier is ASSEBBLIEF! Verder, maak nie saak watter tyd, wat soek fietsers op ‘n snelweg? Vertel my asseblief.

Reinhardt ·

Of jy nou daarvan hou of nie, fietse kry voorkeur op n pad. Hulle het net so baie regte op die pad as motors. So jy as motoris moet maar net eenvoudig rustig raak en hulle laat verbygaan. Was jy al ooit in Nederland? Gaan kyk gerus hoe dinge daar werk mbt fietse.

Michiel ·

Reinhardt ja ek was toevallig paar keer in Nederland – dinge is totaal anders daar. Vir jou INLIGTING en voor jy en die katterige ou klompie aannames maak – daar IS ‘n fietsbaan SPESIAAL aangelê in die Cradle en die fietsers ry NIE binne dit nie. As hulle ook net agtermekaar sal ry soos hul MOET sal ons ook nie kla nie. Jy woon nie hier en belewe nie die twak elke liewe naweek as jy probeer om met jou lewe aan te gaan nie, so zip it!

Fietsryer ·

Ongeag wie reg of verkeerd is, die ou op die fiets kom die slegste af uit so ‘n skermutseling. Dit help om op kleiner paadjies te ry sodat motoriste ten minste stadiger by mens verbykom. Dit gee die motoris ook geleentheid om te stop as iets verkeerd loop. Fietsryers (en ek is self skuldig daaraan) het ongelukkig bietjie van ‘n groepsdapperheid as daar 20 of 30 bymekaar is, en dan okkupeer hulle maklik ‘n baan. So bou die frustrasie by party motoriste op, want hulle kan nie verbykom nie.

Mick ·

Rus in Vrede Jared Dwyer en Richard Da Silva. Ek was deel van die groep. Ek vermy die sinnelose aantygings van hierbo. Daar is ‘n verskil tussen ‘n N-pad en ‘n M-pad. Daar is geen “No-Cycling” borde op ‘n M-pad nie. Ek betaal ook “Rates en Taxes” soos ander en het volste reg om op die pad te wees. Kyk mooi na die foto van die GTI en jy sal sien dat Jared en Richard langs mekaar gery het toe hulle getref is, die skouer binne die geel lyn was 3 meter wyd. Die bestuurder was besig om resies te jaag teen sy vriend in die vinnige baan van die dubbelpad. Ons fietsryers het ‘n volg voertuig agter ons gehad en ‘n amber lig op die dak van ons voertuig en Hazards was ook aan. Die volgvoertuig was in die stadige baan. Die GTI se bestuurder het aan die linkerkant van ons volgvoertuig probeer verbyjaag en toe vir Jared en Richard getref. Die ander motor in die resies het aangehou wegry. Die vrou van een van die oorledenes is ook ‘n fietsryer en het ook deel gevorm van die groot groep. Ek hoop u voel beter na u sinnelose opmerkings.

Wat-ek-lees ·

Dit is uiters tragiese gebeure Mick MAAR dat die volgvoertuig in die stadige (linker-) baan was sê dat daar net een baan was vir ALLE verkeer vinniger as ‘n fiets wat OOK swaarvoertuie insluit. Daar is skielik ‘n bottelnek in die pad en die stadige (100km/h) voertuie moet nou uit daardie baan beweeg. Dis hier waar daar dan LINKS verbygefoeter word deur sommiges. Ek het dit self ondervind dat selfs by ‘n afrit daar LINKS verby gegaan word om REGUIT aan te ry terwyl ek LINKS wil afgaan. Die ‘rates en taxes’ gee jou nie die reg om te maak soos jy wil. Gewone nugter denke is die beste. Hier waar ek bly ry ek maar in die stofstrate met klippe en gate en vermy die geteerde hoofstraat.

Mick ·

Wat-ek-lees, jy mag nie in die geel streep gaan om verby te steek nie!!!! Op ‘n reguit pad teen 100km/h en dit is lig kan jy en ek sekerlik kondisies goed opsom en veilig verbysteek om ‘n swaar voertuig of volgvoertuig te vermy sonder komplikasies? Ons sal nie ‘n abnormale vrag binne die geel lyn verbygaan nie, of hoe? Ons ry die M4 al jare en die idee van ‘n volgvoertuig is om groter beskerming aan fietsryers en meer waarskuwing aan motoriste te bied. Jaag resies teen ‘n onchristelike spoed, onder die invloed, en iemand gaan seerkry. Dis nou bietjie laat om fietsryers onder die loep te plaas vanwee gebruik van die pad (M4). Kyk op http://www.bikehub.co.za bladsy 2 onder die forum “KZN cyclist killed”. Daar is ‘n foto van die tragedie. Ek hou van jou konstruktiewe insette. Dankie. Ek verstaan dat die padordonans fietsry verbied as BLOU die agtergrong kleur is wat die snelweg aandui. Groen agtergrong is fietsry toegelaat. Nog nie 100% seker nie, maar sal uitvind.

Wat-ek-lees ·

Inderdaad Mick mag jy onder GEEN omstandighede daardie geelstreepbaan gebruik om verby te gaan.
Google Earth wys dat die M4 se inligtingstekens BLOU is, d.w.s. dit is ‘n snelweg en daar is ‘n minimum spoed (60km/h) van toepassing soos gewoonlik aangedui op die roete wat heelwat hoër is as die spoed van ‘n fiets.
Dus is groen borde (inligtingstekens) gewone paaie met ‘n maks. spoed van 100km/h selfs as daar geen spoedborde is. Blou is dan die snelweë met ‘n maks. van 120km/h.
Wat nou egter ironies is is dat daar nog heelwat gewone paaie is SONDER ‘n geteerde padskouer waarop die fietsryer mag ry maar dan BINNE IN DIE BAAN van voertuie !!

Hannelie ·

Eerstens my innige simpatie aan die naasbestaandes van die twee fietsryers wat oorlede is. E.K. en Michiel jul ry seker nie fiets nie né en jul is gehoorsame motor padgebruikers. Glo my jy kry baie motor padgebruikers wat baie onbeskof en moedswillig is, hul kyk hoe na hul aan ‘n fiets kan ry. Kyk ek stem saam jy kry regtig sommige fietsryers wat nie die Wet en pad gehoorsaam nie. Hulle moet aangespreek word. Maar dis nie regverdig om ALMAL onder dieselfde kam te skeer nie. En die feit dat ‘n dronk bestuurder in hul ingejaag het, bewys mos wie die skuldige is!!!

Jef ·

Ek is self fietsryer in Nederland en is al 3 keer in n ongeluk betrokke gewees terwyl ek op die aangeduide fietspad gery het 2 keer deur n scooter van my fiets af gery en 1 keer iemand wat sy kar deur oopgooi het sonder eers te kyk.
Wat ek wil se is ieder land het sy probleme wat fietsers en motoriste betref of daar nou aparte fiets paaie is of nie en ek weet dat n ongeluk sit in n klein hoekie en ek se maar so as ek op my fiets ry dan kyk ek vir myself die motoris die scooter en mede fietsers om n ongeluk te vermy.

alida ·

Reinhardt, Nederland is ‘n land vir fietse. Daar is voldoende voorsiening daarvoor gemaak en die wette ten aansien van fietsryers word gehoorsaam. Daar is bitter min voertuie wat in die strate ry. Onthou bietjie ons bly in ‘n derde wereld en Nederland is ‘n eerste wereld land waar opgevoede en beskaafde mense bly. Daar word padreels gehoorsaam en die wetsgehoorsames is nie die skelms soos hier nie.

E.K. ·

Alida, dankie jy is heeltemal reg. Maar almal is gou om hul monde uit te spoel sonde rom te dink voor hul “post”. Ek glo die spul wat so afgaan oor fietsers se “regte” (dis nog NOOIT ‘n reg om in bondels BINNE-IN die motorbaan ipv die fietsbaan te ry nie)is seker juis vand ie oortreders die dat hul so op hul perdjies spring.

Piet Pompies ·

Skaamteloos om die minste te sê dat lesers eerder die dronk bestuurder se kant sal kies as die fietsryer sin. Dit wys net weereens dat die kennis en ervaring van sekere lesers so ver strek as die rekenaar muis in sy hand.

nadine ·

My mond hang oop oor die mense se kommentaar! Praat asof die pad net aan motorbestuurders behoort…..

anna ·

my simpatie aan die families. eerlikwaar.
Maar laat ek nou maar eerlik wees. wanneer ek ryers langs mekaar sien ry gee ek nie pad nie want net soos wat ek moet reels nakom op die pad is dit vir hulle ook ‘n reel om agter mekaar te ry. So jammer vir jou.

Piet Pompies ·

Jou aanhaling “ek moet die reels nakom op die pad” is heeltemal korrek, om dit “toe te pas” is nie jou verantwoordelikheid, dit is ‘n skulderkenning om te sê dat jy nie pad gee. Indien dit in die afsienbare toekoms ooit sou gebeur dat jy ‘n fietsryer sou raakry en die kommentaar word daarmee verbind het jy groot probleme.

Anna ·

Ongelukkig het maroela media nou my Kommentaar verwyder. En Piet pompies, jammer, maar gier kom intelligensie weer ter sprake. Jy dink seker nie my naam is regtig Anna nie. En ek sal steeds nie padgee nie.

Laidback bestuurder ·

Ja nee kyk, hoe val die mense mekaar weer aan. Dit terwyl mense wat fietsryers kritiseer WEL noem dat dit jammer is oor wat gebeur het, maar dit word nei raakgesien. Reinhardt se laaste “post” is die tipiese arrogante aanmerking van mense wat fietse ry. Bly in jul baan in die Cradle dis DIT. Om kinderagtige opmerkings daaroor te maak help niks Die pad is vir motors, die fietsbane vir fietse. Verstaan jy dit so bietjie of moet ek ‘n ander taal probeer.

Teresa ·

Ons het verlede Sondag op daardie selfde pad gery. Die fietsryers bondel oor die geelstreep (noodbaan) en forseer ons om op die blinde hoogte met n dubbel sperstreep hulle verby te steek. Ons het hul met die internasionale toeter en middelvinger n boodskap gestuur en dis presies ook wat ons van hulle terug ontvang het. Arrogant — ongeskik en eiegeregtig. Elke tweede ou het n go-pro…. gaan kyk na die manier waarop hulle die pad gebruik. Dis om van naar te word. Hulle tree onwettig op. Wie gaan hulle vasvat???

tamboti ·

Warm is nie die woord nie! fietsryers sal nooit bes gee nie, net jammer dit kos hul lewens.
Ek het en ry nog self fiets, sal nie droom om op snelweg of enige besige roete te ry nie.
Hierdie mag jul dalk skok: Motor eienaars en bestuurders befonds die paaie deur lisensies en brandstof heefing, daar is geen bydraes van fietsryers nie, dus motors het die reg op paaie, nie voetgangers of fietse nie.
As jy jou daar begewe – onthou jy is die gas, gedra jou so, hou op om dit as jou reg op te eien. Jul kan maar stry, maar onthou net wie gaan altyd die meeste bloei!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.