Man vas ná 2 in brandende plaashuis sterf

Argieffoto

ʼn Man is in hegtenis geneem nadat twee mense Vrydag dood in ʼn brandende huis op ʼn plaas by Wildebeeslaagte buite Northam in Limpopo aangetref is.

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, sê polisiebeamptes is na die plaas ontbied nadat ʼn vermeende brandstigtingsvoorval by hulle aangemeld is. “Die beamptes het vinnig gereageer en by hul aankoms was die hele huis in vlamme gehul,” sê Ngoepe.

“Die polisie het saam met ander rolspelers gewerk om te probeer om die vlamme te blus, maar dit was tevergeefs. Daar is ook gepoog om die mense in die huis te red,” sê hy.

“Die vensters van die huis moes gebreek word om toegang te kry, aangesien al die deure gesluit was. Beamptes het in die huis die liggame van twee mense aangetref met veelvuldige en ernstige brandwonde. Hulle het op die vloer in die huis gelê.”

Volgens Ngoepe het die polisie se voorlopige ondersoek ʼn verdagte geïdentifiseer en is daar dadelik ʼn soektog na hom van stapel gestuur. Die 24-jarige verdagte is uiteindelik deur lede van die polisie se eenheid vir openbare orde in Rustenburg, Noordwes, in hegtenis geneem.

“Tydens die inhegtenisneming is die oorledenes se voertuig ook by ʼn skrootwerf in die Rustenburg-omgewing gevind. ʼn Selfoon, rekenaartablet, horlosie en huissleutels wat aan die oorledenes behoort het, is in die verdagte se besit gevind,” sê Ngoepe.

Die proses om amptelik die identiteit van die twee oorledenes te bevestig is tans nog aan die gang, maar Ngoepe het wel bevestig dat dit twee Ugandese burgers, onderskeidelik 30 en 33 jaar oud, is. Die verdagte is ook van Uganda afkomstig.

Die motief vir die moorde is egter nog nie bekend nie.

Die verdagte sal môre in die Northam-landdroshof verskyn op twee aanklagte van moord asook van brandstigting, motordiefstal en diefstal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.