Man vas ná 4 kinders dood brand

Die huis waar die ma en die vier kinders geslaap het. Foto: Vrystaat SAPD

ʼn Man het Donderdag in ʼn Vrystaatse landdroshof verskyn in verband met die dood van ʼn vrou en vier kinders wat gesterf het nadat ʼn huis waarin hulle geslaap het in Maart in die vroeë oggendure aan die brand gesteek is.

Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, het gesê Lehlohonolo Joshua Tsiane (31), ʼn burger van Lesotho, staan tereg op vyf aanklagte van moord, brandstigting en oortreding van die wet op immigrasie. Tsiane is deur ondersoekbeamptes in ʼn gevangenis in Ladybrand opgespoor waar hy tans tronkstraf vir huisbraak uitdien en met dié aanklagte verbind.

Maroela Media het vroeër berig Mmokgo Maria Sepagela (24) en vier kinders, tussen ses en nege jaar oud, het die oggend van 3 Maart vanjaar in ʼn huis in Thole in Thaba Nchu geslaap toe Tsiane glo daar opgedaag het. ʼn Rusie het gevolg en Tsiane het die huis verlaat, maar later na bewering teruggekeer met ʼn houer vol petrol.

Hy het na bewering petrol oor die huis gegooi en dit aan die brand gesteek met die vyf mense steeds binne. Die kinders, Moleboheng Rethabile Sepagela (8), Malehlohonolo Dimakatso Sepagela (6), Rethabile Augustinah Ralebakeng (9) en Obakeng Junior Ralebakeng (8), het in die huis doodgebrand.

Mmokgo kon daarin slaag om uit die brandende huis te kom, maar Tsiane het glo steeds buite gewag en haar na bewering met ʼn stok aangerand. Sy het ses dae later in ʼn hospitaal gesterf.

“Daar word beweer dat Tsiane na Ladybrand gevlug het waar hy by iemand se huis ingebreek het. Hy is later in hegtenis geneem en tot twee jaar tronkstraf gevonnis. Hy is daar by die gevangenis deur ondersoekbeamptes opgespoor,” het Mbambo gesê.

Die saak teen Tsiane is tot 29 November uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.