Man vas ná aanval op plaasarbeider

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 26-jarige man is in Balfour in Mpumalanga in hegtenis geneem in verband met ʼn plaasaanval in Blinkpoort, Heidelberg in Gauteng.

“Die man is aangekeer ná deeglike speurwerk deur ao Lukas Wolmarans en sers. Vusumuzi Jeffrey Zondo en nadat die gemeenskap die polisie in kennis gestel het hy kruip weg in die Balfour-gebied,” het kapt. Thuvhulawi Tshilate, woordvoerder van die polisie, in ʼn verklaring gesê.

Die verdagte het na bewering ʼn 40-jarige plaaswerker aangeval toe sy op pad werk toe was in die Blinkpoort-omgewing. Hy het haar met ʼn mes gedreig en haar aan haar klere gegryp. “Hy het haar in die bosse ingetrek, haar op die grond laat lê en toe haar handsak deursoek. Die vrou se swart Nokia-selfoon ter waarde van R900-00 en R20-00 kontant vir vervoergeld is gesteel.”

Volgens Tshilate het die verdagte glo nog geld by die vrou geëis. Hy het haar met die mes in haar gesig gesteek. “Sy het baie ernstige beserings opgedoen,” het hy gesê. “Die verdagte het weggehardloop. Die vrou is na die Heidelberg-hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling.”

Die verdagte sal binnekort in die Heidelberg-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

J.Z ·

Daardie polisie moet elke n medalia kry,mooi vir uitsteekende werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.