Man vas ná dood van geliefde sakevrou van Mbombela

Letisia Niemann (38), ‘n geliefde sakevrou van Mbombela, is die naweek in ‘n tref-en-trapongeluk dood.

Hy weet hy moet vergewe en hy sál, maar dit beteken nie hy wil nie hê dat geregtigheid vir sy vrou moet geskied nie.

Só het ʼn bewoë Eben Niemann (44) Dinsdag gesê nadat sy vrou, Letisia (38), die afgelope naweek in ʼn tref-en-trap-ongeluk in Mbombela (Nelspruit) dood is.

Niemann het gesê hulle het Saterdag saam met vriende by die egpaar se onderneming in Locoweg in Vintonia gebraai en het omstreeks 22:00 besluit om ʼn ent te stap om te gaan kyk hoe lyk ʼn nuwe kuierplek wat in die omgewing geopen het.

Die plek was volgepak en hulle het besluit om eerder terug na die onderneming te keer en daar verder te kuier. “Ek en my vroutjie het nog hand aan hand teruggestap,” het Niemann gesê.

Die twee het gesien hoe kom die bakkie in die straat afgery. “Ek weet nie … dit het so vinnig gebeur, of hy dalk beheer oor die voertuig verloor het nie.”

Die voertuig het Letisia getref, haar oor die bakkie geslinger en sy het in die straat beland. Niemann het gesê die motoris het daarna agteruit gery, bo-oor sy vrou gery, en weggejaag.

“Ek weet nie waarom hy agteruit gestoot het nie. Net hý sal dit weet.”

Letisia is inderhaas na ʼn hospitaal geneem, waar sy ʼn ruk later gesterf het.

Die bestuurder van die bakkie is intussen Maandag in hegtenis geneem, nadat die polisie beeldmateriaal bekom het van die persoon wat hulle glo moontlik by die voorval betrokke was.

Kapt. Zandile Gqawa, woordvoerder van die Nelspruit-polisie, het gesê die 23-jarige man word van strafbare manslag aangekla. Hy het hom gister aan die polisie oorgegee.

Gqawa het gesê hy verskyn na verwagting Woensdag in die landdroshof in Mbombela.

Niemann het sy vrou as ʼn sprankelende, sterk vrou beskryf. “Ek het oproepe gekry van mense van wie ek nog nooit eens gehoor het nie, wie se lewens sy aangeraak het,” het hy gesê.

“Sy was ʼn groot kind van die Here en ek is ook. Dit gee aan ons vertroosting.”

Die twee was 21 jaar lank saam. “Dit is baie swaar. Ons het alles saam gedoen. Ons het saam gewerk – sy het die finansies beheer – ons het saam vier jaar gelede die besigheid begin en saam opofferings gemaak.”

ʼn Begrafnisdiens vir Letisia word Vrydag om 14:00 by die NG Kerk Middelburg-Suid gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Mossie ·

Ai man! Sterkte Eben en die res van die familie. Dit is so onnodig!! Vader, hou n beskermende hand oor die Niemann-familie. Gee hul die genade en krag om deur hierdie seer te worstel. Amen

Lee ·

Ai dis so hartseer. Baie sterkte aan haar man en familie. Rus Sag Letisia xx

RooiSarie ·

Liefste Eben, al is dit nou donker om jou, die Here sê jy’s nie alleen,

Sterkte met Vrydag en die pad voorentoe, mag Jer 29:11 seevier hier.

Rus sag mooi vrou, God het jou nodig

Elizabeth ·

As hy agteruit gery het om weer oor haar te ry, klink dit na moord…

Jessica ·

Wow eers tref hy haar en sy val in die pad, dan ry hy agteruit bo oor haar en jaag weg, dis moord wat hy beplan het, het dit miswillig gedoen, iets hier nie reg nie, dis beplan dat hy dit gedoen het, om haar dood tery en weg te jaag.

Neels ·

Ek stem. Iets aan die storie maak nie mooi sin nie. As jy iemand tref is dit een ding. Maar as jy oor hulle reverse in die proses om weg te kom is dit opsetlik, moord met beplanning as jy my vra….

Die storie het meer aan hom as wat die oog dadelik sien….watch this space…

Innige meegevoel met die familie. Bly tragies.

Elize ·

Simpatie… maar ek wonder hoekom loop mense nog in die aand buite rond terwyl dit so gevaarlik is?

Liza ·

Die familie rou en jy maak snedige aanmerkings, sies man! Gaan speel jy eerder op die treinspoor!

Lizelle de Beer ·

Elize, ek dink groot volwasse mense ken die gevare. Miskien was hul tog in n redelike veilige plek. Dis nie mooi van jou nie. Ek stem saam Liza. Sies vir jou!

Spook op thaba ·

@Elize. Hier op van die plattelandse dorpe is dit nog veilig. Ons draf elke oggend en stap in die aand. Nog nooit n probleem gehad

Stem saam ·

Ek stem saam! Ek bly in Bloemfontein en hordes mense draf in die oggende en aande buite. Sekere dele is gevaarlik, maar die woonbuurtes is heerlik en meestal veilig. Sien dikwels bejaardes ook stap in die strate.

Baie sterkte aan die familie!

Gesiggie ·

My hart gaan uit na Letisia se man, haar familie en vriende… kan sien dat sy n sprankel van n mens was.. jy Mnr spoedvraat wat die vrou se dood veroorsaak het en nie eers gestop het en nog oor haar gery het??? jou gewete sal jou pla vir die res van jou lewe , jy sal betaal vir jou dade”’ RIV Liewe mens… so jammer dit moes met jou gebeur.

WonderNet ·

Hy het oor haar ge-reverse, dit is moord, nie strafbare manslag nie.

Mariaan ·

Elize vra maar net..ek sien dit nie as snedig.as hul gery het het sy nog gelewe…laat aande is maar wanneer sulke goed gebeur…maar dit klink ook vir my of die wetter aspris oor haar gery het…mag hy sy straf kry! Jammer oor die tragedie

Bloudromv ·

Dit verstaan ek nie, jy pleeg moord maar word vir manslag aangekla.

Abe ·

Charles,
Maak nie saak wat jou sentimente rondom die naam van die plek is nie. Dis nou verander na Mbombela en dis amptelik gedoen.
Die MM. is heeltemal korrek om die nuwe naam te gebruik.

Cherokee ·

Hy het homself oorgegee? Nadat die polisie beeldmateriaal in die hande gekry het wat wys wie dit is?
Sorry Eben. Gelukkig is jou bron van krag van Bo. Vanaf die Ewige Bron.

hercu ·

hoekom die 23jarige knaap agteruit moes ry, gaan my verstand te bowe – dank die Here hy weet alles

ek kan vir jou sê ek weet hoe voel ‘n geskeurde, gebroke hart, want ek is deur hel en die HeiligeGees het my uit die wêreld se gebrokenheid geruk om tot die besef te kom dat daar geen groter liefde is as die liefde van Jesus nie – mense stel teleur, maar Abba Vader nooit nie!

baie sterkte aan die familie :-(

Philip ·

Die nuwe kuierplek is in die industriële gebied en dis skaars 50 meter van hul ingang af van waar hul besigheidsperseel is. Hul wou net gaan kyk hoe lyk die nuwe kuierplek.

Ciska ·

Ek kan nie glo wat ek lees nie! Jammer Oupa Speva, Eben en familie.

wonder maar net ·

Dis nie dalk die 4 de karakter wat Willem en Santie Potgieter aangerand het nie….? Die is nog op vrye voet klink dit my…. Wonder maar net…

Essie ·

Enigste straf wat vertroosting vir agtergeblewenes is die doodstraf

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.