Man vas ná dreigemente aan Gautengse gesin

Die verdagte tydens sy inhegtenisneming. Foto: EMPD

ʼn 34-jarige man is Dinsdagmiddag by die Eastgate-winkelsentrum aan die Oos-Rand in hegtenis geneem nadat hy glo gedreig het om ʼn man en sy gesin van Bedfordview leed aan te doen indien R30 000 omkoopgeld nie aan hom betaal word nie.

Hoofsupt. Wilfred M Kgasago, woordvoerder van die Ekurhuleni Metropolisie (EMPD), sê die slagoffer het vir ʼn geruime tyd dreigende WhatsApp-boodskappe ontvang.

Die persoon wat die boodskappe gestuur het, het ʼn deeglike kennis van die gesin se bewegings gehad, geweet waar die man se kinders skoolgaan én waar sy vrou werk.

“Die skuldige het gesê hy weet dat die man ʼn welgestelde persoon is en het geëis dat R30 000 aan hom betaal moet word of hy sou iets drasties aan die man en sy gesin doen,” sê Kgasago.

Die omkoopgeld wat teruggevind is. Foto: EMPD

Die slagoffer het die EMPD in kennis gestel en ʼn lokval is vir die verdagte gestel. Die slagoffer het met hom gereël dat hy die geld by die Eastgate-winkelsentrum sal afgee. Toe die verdagte die sak vol kontant optel, is hy onmiddellik deur lede van die EMPD se SWAT-eenheid in hegtenis geneem.

“Die kontant is teruggekry en ʼn selfoon is in die verdagte se besit gevind waarop die dreigboodskappe was wat aan die slagoffer gestuur is,” sê Kgasago.

“Die verdagte beweer hy ken die gesin goed omdat hy saam met die man skoolgegaan het. Hy het aan die beamptes gesê hy is nie ʼn misdadiger nie, maar het dit gedoen omdat hy desperaat is en dringend geld nodig het.”

Die verdagte woon tans op Heidelberg. Hy is op aanklag van uitbuiting in hegtenis geneem en sal binnekort in die Germiston-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Pieter ·

Hy was honger en wou net `n bietjie kos koop, die hof sal hom laat gaan.

alida ·

Lekker het hy vergeet mens werk vir geld. Wie gaan nou sy borg betaal wonder ek.

Nico ·

Sal graag wil weet of sy simkaart ge RICA was en wat die netwerke en owerhede daaraan gaan doen as dit nie was nie. Met RICA is dit mos veronderstel om die foon sonder lokvalle te spoor?

SoosDitIs ·

Ek wonder self. Ek was nou die dag in PEP en wou vinnig n MTN simkaart koop omdat Vodacom my te veel probleme gee, en toe ek by die kasier kom, vra sy my vir my proof of residence en ID. Toe los ek maar die ding, ek het vergeet van RICA.

Maar die persoon hierbo was seker net gese hy kan “self dit RICA” en hy het seker nie of hy het verkeerde inligting deurgegee.

Hy sal seker nie iets oorkom nie, hy was dan honger.

Linda ·

Ek dog SWAT bestaan net op ‘n televisie reeks van Chicago. Nou sien ek die afkortings word ook gebruik vir die lokale polisie. Wil jy nou meer…Iemand kyk te veel Amerikaanse Televisie Reekse.

Adriaan ·

SWAT is die afkorting vir Special Weapons and Tactics. Dus ‘n tipe polisieering en nie eksklusief tot Amerika nie.

willem Botha ·

Ek kon self nie glo die clowns in uniform het n swat eenheid nie .

Sjannie ·

Mense, as hulle sy gesig wys voordat hy formeel aangekla en gepleit dan maak dit vervolging verskriklik moeilik en die moontlikheid dat die saak uitgegooi gaan word deur die regter is dan baie goed. Daar is al hoeveel keer gewaarsku om NIE fotos te versprei van kriminele wat pas vasgetrek was op sosiale media waar hulle gesigte wys nie. Die prokureur wys net vir die regter dat sy gesig aan almal bekend is. GEEN ooggetuenis word dan aanvaar en sodoende het die mense die krimineel indirek lekker gehelp om weg te kom.

ne ·

Siestog, die man is honger en het dalk ‘n string kleintjies. Die hof moet hom maar vryspreek. In SA sal dit voorwaar ‘n plus punt wees as hy nie more weer op straat is nie.

PJC ·

Dink net aan al die trauma waaraan hierdie gesin blootgestel was. Ek hoop nie hy kry borg nie. Hy verdien om lank te sit.

Melanie ·

@Nico
Nico, ek het 3 selfone wat ek ge RICA het. Onlangs het ek die selfoon winkel binnegestap om raad te vra. Toe vind ek uit my selfone is nie in my naam ge RICA nie en die adres is ook glad nie myne nie.

SoosDitIs ·

@Melanie

Dis angswekkend. Vir al wat ons weet is jou besonderhede nou by een van die mense soos in die berig… Miskien moet ek ook bietjie uitvind wat gaan aan op my eie simkaart.

Anoniem ·

Dis eenvoudig eintlik, hierdie pakistaanse selfoom winkels waar mens goedkoop selfoob toebehore koop en jou foon in ‘n japtrap laat reg maak, hul verkoop simkaarte spotgoedkoop en jy hoef glad nie id te gee of bewys van adres nie

Andre Stander ·

Jammer ou maat – you do the crime, you do the time… As jy dink jy het probleme gehad voor hierdie stunt, dan is ek bevrees……..

Blommie ·

Hierdie man was saam met slagoffer op skool en as jy die foto vergroot kan jy wel nie sy gesig sien maar wel sy nek en sy Baard. Hy is dus nie ‘n agtergeblewende lid nie.

Heksie ·

Daar by Eastgate is baie banke, as jy so desperaat is, doen aansoek vir ‘n lening!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.