Man vas ná hy glo jok oor ‘kaping’

Argieffoto

’n Man het Maandag in die Durbanse landdroshof in KwaZulu-Natal op aanklagte van dwarsboming van die gereg verskyn nadat hy glo ’n valse kaping by die polisie aangemeld het.

Volgens lt.kol. Thulani Zwane, polisiewoordvoerder, het Wiseman Nxumalo (32) ʼn kaping vroeër vandeesmaand by die Durban Noord-polisiestasie aangemeld waar hy beweer het dat sy voertuig in Umhlanga Rocks-rylaan deur drie gewapende mans gekaap is. Hy het in sy verklaring beweer sy Toyota Tazz-voertuig is tydens dié kaping gesteel.

’n Saak is gevolglik geopen waarna Nxumalo oor die beweerde kaping ondervra is.

Met die verloop van die ondersoek het dit egter aan die lig gekom dat Nxumalo se voertuig nié gekaap is nie, maar dat hy glo ʼn valse klag by die polisie ingedien het.

Die polisie het Nxumalo gekonfronteer oor teenstrydighede in sy verklaring waarna hy aangekla is van dwarsboming van die gereg.

Zwane het namens die polisie sy kommer uitgespreek oor die toenemende gevalle van valse kapingsake wat by polisiekantore aangemeld word. “Mense mors ons polisiehulpbronne wanneer die polisie op hierdie klagte reageer en dié sake ondersoek.”

Hy sê dat ondersoekbeamptes nou hierdie soort gedrag in ʼn ernstige lig beskou en blatante misleiding van die polisie nie langer geduld sal word nie.

Nxumalo se saak is tot 25 September uitgestel vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

LK ·

Sy ma het beslis nie vir hom die regte naam gegee nie…
Mara-shame…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.