Man vas ná hy glo metrobeampte erg aanrand

Argieffoto

’n 24-jarige fiksheidsafrigter is in hegtenis geneem nadat hy glo ’n vrouebeampte verbonde aan die Johannesburgse metropolisie (JMPD) aangerand en haar rassistiese opmerkings toegesnou het.

Xolani Fihla, woordvoerder van die JMPD, sê die metropolisiebeampte het Saterdagaand omstreeks 22:00 die strate in die suide van Johannesburg gepatrolleer toe sy ’n Volkswagen Jetta wat teen ’n hoë spoed gery het, gewaar. Die motor het van Rosettenville gekom en in die rigting van die Johannesburgse middestad gejaag. Die bestuurder van die motor het deur rooi verkeersligte gejaag en amper teen die beampte se voertuig vasgery.

“Die beampte het die voertuig agternagesit en daarin geslaag om die jaagtog by die aansluiting van Baldwinweg en Eloff-uitbreidingstraat, Village Deep, stop te sit. Die bestuurder van die Jetta het sy motor in trurat gesit, agteruitgery en amper weer die patrollievoertuig gestamp,” vertel Fihla.

“Die beampte het die patrollievoertuig betyds uit die pad van die Jetta gekry. Sy het uit die voertuig geklim en die bestuurder opdrag gegee om te wag terwyl sy om hulp roep.

“Toe die beampte na haar voertuig terugloop, het die man haar van agter gegryp en begin wurg. Sy het amper haar bewussyn verloor. Die man het die beampte opgetel en op die grond neergegooi. Hy het haar in die gesig geskop en gevloek. Hy het ook rassistiese aanmerkings gemaak en haar beledigende en neerhalende name genoem.”

Volgens Fihla het ’n e-taxi – wat verby die toneel gery het – stilgehou. “Die bestuurder van dié motor het besef die beampte se lewe is in gevaar. Hy het vir die man geskree om die beampte te los. Die man het gesê die beampte rand hom aan. Die bestuurder het vir hom gesê dat hy alles gesien het en dat hy nie die slagoffer is nie.”

Die man het daarna glo die beampte opgetel en weer op die grond neergegooi. Hy het haar weer begin skop. “Die e-taxibestuurder het tussenbeide getree.”

Tydens die struweling het lede van die Fidelity ADT-sekerheidsmaatskappy op die toneel opgedaag en die aanrander in hegtenis geneem.

“Die man is in die agterkant van hul patrollievoertuig toegesluit. Op pad na die polisiestasie het hy die agterkant van die voertuig begin skop en slaan. Hy het ook geskree as die e-taxibestuurder nie tot die beampte se redding gekom het nie, sou hy haar doodgemaak het.”

Die man word tans by die polisiestasie in Johannesburg-Sentraal aangehou. Hy word aangekla van poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, verset teen inhegtenisneming, asook roekelose en nalatige bestuur.

Die beampte is na die Milpark-hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling. Sy het beserings aan haar kop, gesig, linkeroog en regterskouer opgedoen. Sy is reeds gisteraand ontslaan.

“Die bestuur van die JMPD veroordeel die aanranding van metropolisie-vrouebeamptes. Ons hoop dat die man se inhegtenisneming ’n voorbeeld vir ander oortreders sal wees om nie vrouebeamptes leed aan te doen nie. Dit sal nie ongestraf bly nie.”

*Hierdie berig is ná publiksie gewysig – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Rooikopheks ·

Hoe kan enige man ń vrou so behandel, het hy geen respek vir ń vrou nie?

Grens ·

Fiksheidsafrigter, klink jy sal moet hard oefen by hom, anders wetter hy vir jou.

Misky ·

Sies, dis skokkend dat ‘n man ‘n vrou so kan behandel – maak nie saak wat gebeur het nie. Bly ek is nie vandag in sy skoene nie!!!!

VaalDonkie ·

4 kante: my kant, jou kant, die regte kant, en die kant wat die media berig.

Sê maar net ·

Maak nie saak nie. Mens kannie alles met jou vuiste regslaan nie. Mens slaan nie aan ‘n vrou nie. PUNT!

Sê maar net ·

Maak nie saak nie. Mens kannie alles met jou vuiste regslaan nie. Mens slaan nie aan ‘n vrou nie. PUNT!

Swerwer ·

Fiksheidafrigter of nie, ek sidder om te dink wat alles kon gebeur het as die Beampte nie ingegryp het nie. En dit 22:00 in die aand na hy veronderstel was om nie op straat te wees nie.

Sêmanet ·

Hoekom doen ‘n vroue beampte daai tyd van die nag ALLEEN patrollie? Moet hulle nie twee of meer wees nie. Dis mos baie gevaarlik vir ‘n vrou.

Piet Snot ·

As jy argumenteer dat ‘n vrou die werk net so goed soos ‘n man kan doen, kan jy nie ekstra beskerming vir haar bepleit nie.
Of sy’s ewe goed as die man, óf sy is nie.
Jou vraag klink na ‘n onaanvaarbare “moes ‘n vrou in die eerste plek in so ‘n gevaarlike posisie aangestel gewees het?”

Sê maar net ·

Vroueslaner. Buite beheer. Ek hoop hy word vir lank toegesluit. Die vrou gaan berading nodig hê. Ek bid sy genees vinnig van haar fisiese en emosionele wonde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.