“Hy is in hegtenis geneem nadat gemeenskapslede ons van inligting voorsien het,” het ao. Kay Makhubela, woordvoerder van die polisie, gesê.
Makhubela sê die beloning van R50 000 wat uitgeloof is vir inligting oor waar Koobendran Moodley hom bevind, sal betaal word sodra die polisie vasgestel het wie presies die inligting voorsien het.
Moodley het glo op 6 Julie ʼn motoris doodgeskiet in Lenasia. Moodley het in ʼn silwer Nissan Navara gery terwyl die ander motoris in ʼn silwer VW Polo gery het. Die passasier in die Polo is beseer. Moodley het na die voorval van die toneel gevlug.
ʼn Ooggetuie het aan The New Age vertel dat Moodley op die dag by ʼn kroeg gekuier het en later gevra is om te gaan nadat hy glo met ander mense in ʼn geveg betrokke geraak het.
Moodley het gery waarna hy glo in ʼn ongeluk betrokke was. Hy het glo nie na die ongeluk stilgehou om besonderhede uit te ruil nie.
Die bestuurder van die ander motor het Moodley glo huis toe gevolg waar ʼn argument tussen hulle uitgebreek het. Die motoris is doodgeskiet en ander mense is beseer.
Ofentse Morwane, woordvoerder van die Gautengse departement van korrektiewe dienste, het destyds aan The New Age gesê dat Moodley uit is op borg van R1 500 nadat hy vir diefstal in hegtenis geneem is.