Man vas ná hy glo verkeersbeampte doodry

Argieffoto bloot ter illustrasie.

’n Motoris is in hegtenis geneem nadat hy ’n verkeersbeampte op die N12 in die omgewing van Johannesburg doodgery het. Die 28-jarige motoris was na bewering onder die invloed van alkohol toe hy die verkeersbeampte Saterdag in die vroeë oggendure met sy Renault Sandero getref het.

Hy het glo boonop daarna van die toneel weggejaag.

Die motoris staan nou tereg op aanklagte van strafbare manslag, bestuur onder die invloed van alkohol en versuim om by ’n ongelukstoneel stil te hou.

Xolani Fihla, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie (JMPD), sê verkeersbeamptes het Saterdag omstreeks 03:00 op ’n ongeluk op die N12‑Wes, tussen die Goue Hoofweg en die K43 in Eldorado Park, gereageer.

’n Beige Renault Sandero het teen ’n hoë spoed aangekom en die 37-jarige Luleka Sobetshe getref.

Die bestuurder van die Renault Sandero het versuim om stil te hou nadat Sobetshe getref is en verkeersbeamptes het hom agternagesit. Hy is kort daarna aangekeer. ’n Blaastoets is op die motoris gedoen. Die toets het ’n lesing van 0,69mg/l, wat hoër as die wettige perk van 0,24mg/l is, aangedui.

Die motoris is op die plek in hegtenis geneem en sal na verwagting in die komende week in die hof verskyn.

Die nooddiens het Sobetshe Saterdagoggend op die toneel dood verklaar.

Thulani Maxwell Khanyile, waarnemende hoof van die JMPD, het namens die metropolisie hul medelye met Sobetshe se familie, vriende en kollegas betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

3 uur in die oggend en Onder die prop, hoop hul maak n voorbeeld van hom,

Swerwer ·

Simpatie en meegevoel met Luleka Sobetshe se familie en naasbestaanes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.