Man vas ná hy polisie byt

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Argieffoto: SAPD

ʼn 29-jarige verdagte is Saterdag vroegoggend in Potchefstroom in Noordwes in hegtenis geneem, nadat hy ʼn polisiebeampte aangeval het. Die verdagte het die polisiebeampte glo aan die een hand gebyt en in die ander hand met ʼn mes gesteek.

Kapt. Sam Tselanyane, woordvoerder van die polisie, het gesê twee polisiebeamptes van die Ikageng-polisie digby Potchefstroom het Saterdag net voor 02:45 die Sarafina-omgewing in Potchefstroom gepatrolleer toe hulle die verdagte gewaar.

“Hulle het die verdagte voorgekeer en hom begin deursoek. Hulle het ʼn skootrekenaar in sy besit gevind. Die verdagte het beweer die skootrekenaar behoort aan ʼn vriend van hom,” vertel Tselanyane.

Die polisiebeamptes het die verdagte verder deursoek en ʼn mes in sy besit gevind. Dit was tóé dat die verdagte probeer vlug het, maar die polisiebeamptes het hom nie ver daarvandaan gevang nie.

’n Struweling het uitgebreek en die verdagte het een van die polisiebeamptes aan die regterhand gebyt en in die linkerhand met die mes gesteek.

Tselanyane sê die polisiebeamptes het vinnig die oorhand gekry en die verdagte onmiddellik in hegtenis geneem.

Die verdagte sal na verwagting Maandag in die Potchefstroom-landdroshof verskyn op aanklag van aanranding asook die besit van vermoedelik gesteelde goedere.

Lt.genl. Sello Kwena, die provinsiale polisiekommissaris, het die twee polisiebeamptes geloof vir hul waaksaamheid en dapperheid.

“Ons wil hiermee ook waarsku dat die polisie meedoënloos sal optree tydens die uitvoering van hul pligte en dat geen dreigemente deur misdadigers hulle sal ontmoedig om misdaad te bekamp nie,” het Kwena gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Fedup

Daai tyd van die oggend is mens seker maar honger.

Michael 1

Ek dink die polisieman het goeie werk gedoen ,ek moet sê dit is n lang lang lang tyd dat ek so kon sê.

twaalfboor

En die klag is aanranding? Poging tot moord vir die feit dat die polisieman met ñ mes gesteek is. Wonder wie het die klaagstaat opgestel.