Man vas ná hy vrou glo koelbloedig doodskiet

Argieffoto: Nico Strydom

ʼn Vrou moes Sondagoggend na bewering haar vriendin se bloed opvee nadat sy kort vantevore voor haar oë met ʼn haelgeweer doodgeskiet is.

Kol. Thembeka Mbele, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse polisie, sê ʼn 65-jarige man is in hegtenis geneem in verband met dié moord wat vanoggend in die vroeë oggendure op ʼn plaas in die Kwambonambi-gebied, noordoos van Richardsbaai, plaasgevind het.

Volgens Mbele het die verdagte vanaf ʼn restaurant saam met twee vroue na sy huis op ʼn plaas gegaan. “’n Rusie het ontstaan toe die vroue wou gaan. Die man het glo ʼn haelgeweer te voorskyn gebring en op hulle geskiet. Een vrou is doodgeskiet en die ander een het oorleef,” sê sy.

Sy sê die man het daarna na bewering die liggaam in plastieksakke toegedraai en dit in sy voertuig gelaai. Hy het die ander vrou agtergelaat om die toneel skoon te maak.

“Sy kon daarin slaag om te ontsnap en het die voorval by die Kwambonambi-polisiestasie aangemeld. Die polisie het dadelik gereageer en toe hulle die verdagte opspoor, het hy verskeie skote op die polisiebeamptes afgevuur.”

Mbele sê die polisie het teruggeskiet, maar niemand is in die oor-en-weer-skietery beseer nie. Die man is in hegtenis geneem en aangekla van moord en poging tot moord.

Die oorledene se liggaam is toegedraai in plastieksakke in die Empangeni-gebied gevind.

Die verdagte sal binnekort in die Empangeni-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

LB ·

klink vir my na ‘n alledaagse Suid-Afrikaner…dis mos al “normaal”om moord te pleeg in hierdie land.

Se maar net! ·

Waar gaan ons land heen?Genade tog..Dit gaan my verstaan tebowe om te dink iemand kry dit reg om n volgende persoon dood eenvoudig net dood te maak…Is die mense op drugs?Of is dit maar net vir die “ek sal jou wys ek is die baas”houding of wat?Ek wens ek kan verstaan!!

En nou? ·

Dit klink nie vir my asof so iets sy eerste keer was nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.