Man vas ná hy vrou glo lewend aan die brand steek

Tracy Samuels. Foto: Verskaf

ʼn 45-jarige man is Donderdag in hegtenis geneem nadat hy glo op Oukersdag ʼn vlambare vloeistof oor Tracy Samuels (39), ʼn inwoner van Roodepoort in Johannesburg, gegooi en dit aan die brand gesteek het.

Maroela Media het vroeër berig ʼn rou soort van asetoon wat gebruik word om oppervlaktes mee skoon te maak is ten aanskoue van Samuels se 11-jarige seun oor haar gegiet nadat sy ʼn rusie met die man glo oor ʼn WhatsApp-gesprek gehad het.

Samuels is na ʼn staatshospitaal gehaas waar daar nie ʼn brandsorgeenheid was nie.

Die Hero Burn Foundation, ʼn nie-winsgewende organisasie wat ondersteuning bied en omsien na brandslagoffers, het van die voorval te hore gekom en gereël om haar na die brandsorgeenheid van die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto oor te plaas.

Haar toestand was kritiek en sy moes aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel word.

Kapt. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder vir Gauteng, het vroeg in Januarie aan Maroela Media bevestig ʼn verdagte is ná die aanval in hegtenis neem en sou in die landdroshof in Roodepoort verskyn het, maar die saak is van die rol geskrap.

“Die staatsaanklaer het daarna opdrag gegee dat die ondersoekbeampte ʼn verklaring by Samuels afneem. Die ondersoekbeampte het ook verklarings van ooggetuies gekry, waarna die dossier na die aanklaer gestuur is vir beslissing. Die verdagte is Donderdag in Roodepoort in hegtenis geneem,” het Masondo Vrydag aan Maroela Media gesê.

Die Hero Burn Foundation het ná die saak geskrap is, ʼn prokureur van die regsfirma Wentzel en Vennote se dienste ingewin om te help met die man se herinhegtenisneming.

“Die prokureurs het onverpoosd gewerk en dit het uiteindelik Donderdag tot die man se inhegtenisneming gelei. Aanvanklik is ʼn saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer ondersoek, maar dit is intussen na ʼn aanklag van poging tot moord verander,” het Annerie du Plooy, direkteur van die Hero Burn Foundation, Vrydag aan Maroela Media gesê.

Masondo het gesê die man sal na verwagting Vrydag in die Roodepoort-landdroshof verskyn.

Du Plooy het gesê hulle hoop nie die man word borgtog toegestaan nie, aangesien Samuels vir haar lewe vrees.

Samuels het tweedegraadse brandwonde aan haar hele bolyf, kop, gesig en arms opgedoen.

“Sy en haar seun is steeds baie getraumatiseerd. Sy ontvang nog wondsorgbehandeling en daar lê nog ʼn lang pad van herstel vir haar voor – fisiek en emosioneel. Dit is ook nog te vroeg om vas te stel hoeveel en watter soort littekens sy opgedoen het,” het Du Plooy bygevoeg.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johnn ·

SA word by die dag erger en erger, ek waarsku maar oral hier om weg te bly van die plek af, ek haal net Trump aan, want dis die waarheid. Bly weg van die hole af.

Peet J ·

Hierdie optrede van die persoon volgens my sienswyse is afskuwelik ,wreedaardig , onmenslik en hy behoort na ‘n sielkundige gestig verwys te word,

Marinda ·

Hoekom het hulle haar nie in die eerste plek na die brandwond eenheid gevat nie? Sterkte

Juliet ·

She is doing so well, loved by so many and proud to call her my friend! Strong woman! Have fun in jail!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.