Man vas ná jong vrou se liggaam op vullisterrein gevind word

Nomvuzo Atoli (Foto: Facebook)

ʼn 29-jarige man is Dinsdag in hegtenis geneem in verband met die dood van ʼn jong vrou wie se liggaam sowat twee weke gelede in Browns Farm in Philippi gevind is. Die vrou is later geïdentifiseer as die 22-jarige Nomvuzo Atoli van Nyanga.

Volgens sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, het die Wes- en Oos-Kaapse polisie kragte saamgesnoer om dié man vas te trek en sy inhegtenisneming is beskryf as ʼn “groot deurbraak” vir die polisie.

Maroela Media het vroeër berig inwoners van die Siyanyanzela- informele nedersetting het op 20 Augustus op Atoli se liggaam op ʼn stortingsterrein in Browns Farm afgekom. Sy het kopbeserings gehad.

“Die man is Saterdag in sy skuilplek in Idutywa in die Oos-Kaap met die hulp van die nasionale intervensie-eenheid van Mthatha opgespoor. Hy is kort daarna in hegtenis geneem,” het Rwexana gesê.

Die ondersoekspan het die verdagte terug na Kaapstad geneem en hy verskyn na verwagting Vrydag in die Athlone-landdroshof.

Die polisiebestuur het die goeie samewerking tussen die provinsies geloof.

Inwoners van die gebied was erg ontstoke nadat Atoli se liggaam ontdek is. Mandisa Ncwadi, ʼn gemeenskapsleier, het gesê inwoners is nog “in pyn” en “baie teleurgesteld”. Dit is die tweede vrou wat die afgelope ruk in die Browns Farm-gebied vermoor is.

Die liggaam van Amahle Quku (17) is presies twee maande gelede in lang gras langs Albert Luthulistraat in Browns Farm gevind. Die tiener was naak en klippe is langs haar gekneusde liggaam gepak.

ʼn Verdagte is in hegtenis geneem in verband met haar moord en sal na verwagting op 6 Oktober weer in die Wynberg-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Adam Adriaan ·

‘n Mens moet darem werklik van die satan besete wees om koelbloedige moord te pleeg.

marius ·

Vat hom vullishoop toe , en bring die stootskraper . Die regstelsel is ‘n klug .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.