Man vas ná Lephalale-plaasmoord

Drs. Werner en Mariette Emslie. Foto: Via Facebook

ʼn Verdagte wat moontlik verbind kan word met die onlangse moord op dr. Werner Emslie (55) van Lephalale (Ellisras), is Woensdag in hegtenis geneem.

Oudkol. Sakkie Louwrens, direkteur van die misdaadbestrydingsorganisasie Heritage Protection Group (HPG), het Donderdag aan Maroela Media gesê die verdagte, vermoedelik 25 jaar oud, is om 10:00 in Frankfort in hegtenis geneem.

“HPG in samewerking met Qiniso Lonke-veiligheidsdienste, speurders van die Lephalale-polisie en die misdaadintelligensie-eenheid het inligting opgevolg wat tot die inhegtenisneming gelei het,” het Louwrens gesê.

Volgens Louwrens is die verdagte na die Lephalale-polisiestasie geneem vir aanhouding en verdere ondervraging. “Hy word in dié stadium nog net vermoedelik met dr. Emslie se moord verbind, dit is nog nie bevestig nie,” het hy benadruk. Meer inhegtenisnemings word verwag.

Maroela Media het vroeër berig Emslie, sy vrou, dr. Mariëtte Emslie (55), en die egpaar se dogter, Barbara (19), ʼn eerstejaar mediese student aan Tukkies in Pretoria, is op 20 September omstreeks 20:00 deur vier gewapende mans op die egpaar se plaas in die Afguns-omgewing aangeval. Mariëtte is ʼn algemene praktisyn op die dorp en Werner was ʼn geliefde boer en doktor in bedryfsgesondheid.

Werner is koelbloedig doodgeskiet terwyl hy buite sy huis op die stoep gesit het. Mariëtte is in die lewer geskiet en moes met ʼn helikopter na die Muelmed-hospitaal in Pretoria gebring word waar sy gestabiliseer is. Sy kan ná die skietery nie loop nie en word tans in ʼn rehabilitasiesentrum in Pretoria behandel. Barbara is nie tydens die aanval ernstig beseer nie.

Die verdagtes het met twee vuurwapens en die egpaar se bakkie van die toneel gevlug. Die bakkie is later verlate buite die plaas gekry.

Maroela Media het navraag gedoen by die polisie en wag nog vir terugvoer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Ellisras ·

Jammer die metodes van Fred Kitching is nie meer daar om sulkes te oortuig om te praat nie. Nou sal die vuilgoed ‘n prokureur kry op die belasting betaler se rekening. En nog vetgevoer word in tronk.

Godfrey Mokgonyana ·

Eishhh daai dae van oom Fred Kitching(Kgotsong)en Oom Mosima (Mashata)ons dorp was veillig.daai twee polisiemanne het hulle job mooi gedoen

Erick ·

Sy kan nie loop na die aanval nie. Verstaan die breë publiek werklik wat mense wat agterbly moet deurmaak na sulke geweldadige en traumatiese gebeure? Ek twyfel.

Vanessa ·

Is daar al ooit deur enige ondersoek bewys of bevestig dat die plaas moorde polities gemotiveerd is?

Poot ·

Bring terug die doodstraf. Dis AL MANIER hoe dit sal end kry.

charmaine ·

Ellisras is boere dorp hang hom in die middel van die dorp aan n paal. Laat die res met hom maak wat hulle wil vir n week lank(leiding is net so erg soos die dood). Want die man se vrou en kinders gaan vir ewig hieronder ly.

Justice ·

Puik speurwerk dat die SAP hom tot in Frankfort kon naspoor en arresteer.

Ekke ·

Inhegtenisneming net ‘n dag voor Dr Emsley se herinneringsdiens. Hoop die ander 3 word ook gevang!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.