Man vas ná ma, kinders in brand sterf

Foto: SAPD

ʼn Soldaat in die Suid-Afrikaanse weermag is onder polisiebewaking in ʼn hospitaal in Middelburg, Mpumalanga, opgeneem nadat ʼn vrou en haar twee kinders in ʼn huisbrand gesterf het.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het gesê die brand het Vrydag omstreeks 21:30 by ʼn huis in Mhluzi naby Middelburg uitgebreek. ʼn 39-jarige vrou en haar twee kinders, onderskeidelik tien en 17 jaar oud, was in die brandende huis vasgekeer.

“Lede van die gemeenskap het probeer om die brand te blus, maar albei kinders het op die toneel gesterf. Die vrou het vroeg Saterdagoggend ook aan haar beserings beswyk,” het Hlathi gesê.

Foto: SAPD

Hy het gesê die polisie se voorlopige ondersoek het aan die lig gebring dat die vrou se 44-jarige vriend gesien is toe hy ʼn paar minute voor die brand met ʼn weermagbussie by die huis stilgehou het. Met die huis in ligte laaie en terwyl mense probeer het om die vlamme te blus, is die man deur inwoners opgemerk terwyl hy ryloop op pad terug na die weermagbasis in Middelburg.

“Dit het aan die lig gekom dat die man twee 25 ℓ-houers vol brandstof [by die weermag] uitgeboek het omdat hy vir ʼn amptelike afspraak op pad was na Noordwes met die weermag se minibus. Die minibus is op die toneel van die brand gevind, gedeeltelik verbrand, met een brandstofhouer binne-in wat byna leeg was,” het Hlathi gesê.

“Daar word ook beweer dat die man ná die tyd by sy werk opgedaag het en aan die veiligheidswagte gesê het hy het brandwonde opgedoen terwyl hy probeer het om sy vriendin te help nadat sy deur weerlig raakgeslaan is.”

Die man is deur die polisie aangekeer en met 48% brandwonde op sy hande en arms onder polisiebewaking in die Life Midmed-hospitaal opgeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johanna Botha ·

So word alles om en in die omgewing vernietig …as dit nie n verkragting is, is dit n brand n geplunder of moord ….waneer indien ooit gaan dit regkom !

Marinda ·

Ek het nie woorde nie, of moet ek eerder sê dit wat ek wou skryf sal nie goed gekeer word nie.

Leahim ·

Ek verstaan nie die konsep van as ek ontevrede of ongelukkig met iets is om dit te brand nie dit klink na duiwel en hel manier.

Helen ·

Ok so hy word nou onder bewaking gehou? Wonder of hy ook dalk tronk toe sal gaan siende dat hulle wat in die weermag is maar kan skiet en brand en dan kom hulle niks oor nie???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.