Man vas na ‘manipulering’ van wisselkoers om miljoene te kry

(Argieffoto: Steve Buissinne/pixabay)

Neil Phillips, glo ’n oud-Suid-Afrikaner, is verlede week in hegtenis geneem in verband met ’n beweerde skema om die rand-dollar-wisselkoers te manipuleer om ’n uitbetaling van $20 miljoen te verseker.

Phillips, medestigter en hoofbeleggingsbeampte van ’n verskansingsfonds in die Verenigde Koninkryk, is op versoek van Amerika in Spanje in hegtenis geneem. Hy word beskuldig van sameswering om bedrog te pleeg.

Volgens die akte van beskuldiging het Phillips einde Oktober 2017 ’n opsiekontrak van $20 miljoen gesluit waarvolgens die bedrag aan sy verskansingsfonds sou uitbetaal indien die rand tot onder R12,50 teen die dollar sou versterk voor 2 Januarie 2018.

Bloomberg berig Phillips wou die ANC se nasionale konferensie in Desember 2017 gebruik om die uitbetaling van die $20 miljoen te verseker aangesien die rand sou reageer op gebeure by dié konferensie. Dit was wel die geval toe Cyril Ramaphosa tot president van die ANC verkies is. Phillips het voorspel dat die rand aansienlik sou versterk as gevolg hiervan, maar nadat dit nie tot R12,50 versterk het nie, moes Phillips glo inderhaas ’n ander plan maak.

Phillips het toe glo met ’n plan vorendag gekom om die wisselkoers doelbewus en kunsmatig te manipuleer. Hy het glo kort voor middernag op 25 Desember 2017 vir ’n personeellid van ’n bank in Singapoer opdrag gegee om namens die verskansingsfonds $725 miljoen te verkoop in ruil vir ongeveer R9 miljard. Binne sowat ’n uur het Phillips deur die verhandeling veroorsaak dat die wisselkoers tot onder R12,50 gedraai het.

Phillips, wat in die stadium in Suid-Afrika was, het die boodskappe deur die Bloomberg Chat-boodskapdiens aan die bankwerknemer in Singapoer gestuur.

Nadat Phillips die wisselkoers kunsmatig, glo deur sy manipulerende verhandeling, tot onder R12,50 laat daal het, het sy verskansingsfonds meer as $15,6 miljoen uit die transaksie ingesamel en is $4,34 miljoen aan ’n ongeïdentifiseerde kliënt toegeken.

Phillips kan tot 20 jaar tronkstraf gevonnis word indien hy skuldig bevind word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Gert ·

Geldgierigheid…… geen simpatie. Hoeveel mense het skade gelei a.g.v. hierdie skelm.

Pierre ·

klink vir my heel wettig, daar was standaard handel transaksie om Dollers te verkoop en om Rande te koop, dit is wel n klomp geld om $20Mil te maak en die risiko te loop dat dit nie reg uitspeel nie

VaalDonkie ·

Mens moet seker maar vra wie se geld gebruik was om daai transaksie te doen en of HULLE geld verloor het in die proses.

Pieter ·

Die GROOT visse doen dit dan op n daagikse basis, hoekom nie hulle dan ook aankla nie?

Stephen ·

Wat almal miskyk is hierdie man se talent. Bied hom n pos aan in die Bank waar hy hierdie tipe misdrywe kan identifiseer.

George ·

Dit word daagliks gedoen in markte, manupilering is niks nuuts nie.

Gert ·

Die banke neem hulle wel in diens, maar nie om die skelms te jag nie, eerder om hulle eie manupilasie te bedryf.

George ·

Die Forex mark is korup tot in sy core. Amper soos the big short.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.