Man vas ná moord in Shoprite-winkel

Foto: Twitter

ʼn Verdagte is in hegtenis geneem in verband met Sondagoggend se rooftog by die Shoprite-winkel in Zweletemba, Worcester, waartydens die winkel se bestuurder doodgeskiet is.

Volgens sers. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het ʼn intelligensiegedrewe operasie deur die polisie van Stellenbosch en Worcester gelei tot die inhegtenisneming van die verdagte by sy huis in Watergang Kayamandi buite Stellenbosch.

“Die verdagtes was nie tuis nie, maar het kort daarna daar aangekom en is in hegtenis geneem. Sy huis is deursoek en daar is op ʼn 9 mm-pistool en ammunisie asook kontant en ʼn selfoon wat tydens die rooftog gesteel is, beslag gelê.”

Die 49-jarige verdagte sal na verwagting Dinsdag in die Stellenbosch-landdroshof verskyn. Volgens Rwexana is die polisie op die spoor van die ander verdagtes.

Die rooftog het omstreeks 06:00 plaasgevind kort nadat Beatrice Manuel, die takbestuurder van die Shoprite, vir werk opgedaag het. Drie gewapende mans het die winkel binnegekom en Manuel doodgeskiet voor hulle met gesteelde goedere op die vlug geslaan het.

Die Shoprite-groep het intussen gesê die winkel is tot verdere kennisgewing gesluit.

“Die Shoprite-groep betreur die toenemende vlakke van geweld en voorvalle van misdaad in sy gemeenskappe. Dit voorkom dat gewone burgers in vrede met hul daaglikse lewe kan voortgaan en sake in openbare plekke doen. Sodoende word hulle dus van hul veiligheid ontneem.”

Shoprite het sy meegevoel met Manuel se familie en kollegas betuig en gesê berading word aan die familie en werknemers van die winkel verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

James ·

Wanneer gaan die President ingryp met die sinnelose moorde!!!?????

Realis ·

Hoekom sal hy? Die regering maak miljoene uit misdaad uit.

hannelie ·

Die president sal nooit ingryp nie…as dit eers sy eie familie begin raak, sal sy oë dálk oopgaan. Maar andersins sal hy niks doen dis maar hoe dit is

pinkie ·

Nog ‘n sinnelose moord op ‘n onskuldige burger van onse land. En dit vir ‘n bietjie geld en ‘n selfoon. Ek kan tot nou nie verstaan hoe mens ‘n ander se lewe net kan neem nie.

Manie van Worcester ·

Maklik, jy weet kanse dat jy gevang word is skraal, dat jy wel vervolg gaan word nog skraler en as jy gevonnis word kan jy gou gou parool kry. Prent lyk baie anders as jy weet jy sal gevang word, jy sal in hof kom en doodstraf kry

Onnie ·

Hoop hulle vang die moordenaars vd Stellenbosch boer net so vinnig

GM ·

James, die uwe president het lyfwagte – hoekom sal hy omgee oor wat met die gewone landsburgers gebeur? Solank hulle net belasting betaal sodat hy en sy ‘comrades’ hul elite-bestaan kan volhou, dan is als reg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.