Man vas ná moord in spoglandgoed

Die Schoongezicht-landgoed. Foto: http://www.schoongezicht-estate.com

ʼn Man is Dinsdagoggend in hegtenis geneem nadat ʼn vrou se naakte liggaam Maandagoggend in haar huis op ʼn veiligheidslandgoed naby Plettenbergbaai in die Suid-Kaap gevind is.

Penelope Cumming (63) se liggaam is Maandag omstreeks 05:00 deur ʼn vriend in haar huis op die Schoongezicht-landgoed aangetref. Kneusmerke aan haar liggaam dui daarop dat sy vermoedelik verwurg is, maar ʼn nadoodse ondersoek sal die presiese oorsaak van haar dood bepaal.

Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig die verdagte, vermoedelik in sy 20’s, is vanoggend deur die polisie in samewerking met ʼn plaaslike veiligheidsmaatskappy in hegtenis geneem. Volgens Pojie word die verdagte deur forensiese bewyse wat op die toneel versamel is met die moord verbind.

Die verdagte is ook glo op beeldmateriaal van veiligheidskameras vasgevang toe hy die landgoed in die oorledene se motor verlaat het. “Ons is positief dat ons ʼn deeglike deurbraak in hierdie saak gemaak het,” het Pojie gesê.

Cumming se uitgebrande voertuig is later, nadat haar liggaam gevind is, naby Knysna opgespoor.

Dit is in dié stadium nie duidelik hoe die moordenaar toegang tot die landgoed en tot Cumming se huis gekry het nie. Pojie het gesê die polisie is ook nie bewus van enige verbintenis tussen Cumming en die verdagte wat in hegtenis geneem is nie.

Cumming se swaer het in ʼn plasing op Facebook beweer die alarm by sy skoonsuster se huis het Maandag omstreeks 22:00 afgegaan en weer twee keer daarna. Hy beweer die veiligheidsmaatskappy het elke keer gereageer, maar terugvoer gegee dat die huis donker is en dat niemand tuis is nie. Pojie het gesê hy kan nie hierdie inligting bevestig nie.

Die verdagte sal Donderdag in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklag van moord. Volgens Pojie kan nog aanklagte later bygevoeg word namate die ondersoek vorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

christa ·

dis nou die soort goed waarmee opgevoede mensdom moet saamleef en jou mond moet hou .

Genieve ·

Was ook verlede week n moord op Jongensfontein maar die verdagtes is gou aangkeer en het gister in die plaaslike hof verskyn..hoekom die arme mense dood maak.Vat wat jy wil he en los die arme ou mense uit.

Alida ·

Tragies. Is daar al enige nuus oor Poppie van der Merwe se ouers. Sou hulle nie nou gevonnis word nie? Ek verbeel my laat in Januarie 2018 of het ek iets gemis.

PJC ·

Dit lyk nie of die veiligheidsmaatskappy van veel nut is nie. Die feit dat die huis donker was dui nie daarop dat daar nie probleme is nie. Met sulke soldate wen jy geen oorlog nie. Hopeloos is wat ek dit noem.

Cherokee ·

Ek hoop daar word deeglik opgevolg met die sekuriteitsgroep wat betaal is om veiligheid te verskaf maar wanneer die ligte af is besluit hulle daar is niemand nie, selfs al het die alarm twee keer afgegaan.

Lolla ·

Klink darm baie na dieselfde moord patroon van Mooinooi vroue… Wonder of die krimineel nie deel is van die Mooinooi moord insident nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.