Man vas ná moord op Vrystaatse boervrou

Lettie de Ru (Foto: Facebook)

’n Verdagte is in hegtenis geneem nadat ’n Vrystaatse boervrou verlede naweek dood in haar plaashuis in die omgewing van Bultfontein gevind is.

Daar is aanvanklik vermoed dat Lettie de Ru (79) aan natuurlike oorsake oorlede is. ’n Nadoodse ondersoek het egter later onthul dat sy verwurg is.

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê ’n deeglike ondersoek is ná die uitslag van die nadoodse ondersoek gedoen en daar kon vasgestel word dat verskeie items uit die plaashuis vermis word.

’n 29-jarige man is sedertdien in hegtenis geneem nadat die gesteelde items in sy besit gevind is.

Volgens Thakeng is De Ru Sondag omstreeks 11:00 dood op haar plaas De Erf naby Bultfontein gevind.

’n Saak van moord en huisroof is ná die uitslag van die nadoodse ondersoek aanhangig gemaak en polisiebeamptes het Donderdag die plaas besoek om inligting in te win.

Dié inligting het die polisiebeamptes na ’n informele nedersetting in Phahameng gelei waar ’n sinkhuis deursoek is. ’n Selfoon, skootrekenaar en ’n geheuestokkie waarop “De Ru” geskryf staan, is onder meer in die huis gevind.

Die eienaar van die huis het hom teëgesit, maar is eindelik in hegtenis geneem.

Hy staan nou tereg op moord, huisroof, die besit van vermoedelik gesteelde goedere en verset teen inhegtenisneming. Hy sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Bultfontein verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Swerwer ·

Gewetenlose skurke is aan die orde van die dag want die ANC Regering het toegelaat dat ons land verval het.

Retha ·

Waarheen is ons land op pad heen? Jongmense pleeg moord. Dit is mos nie hoe dit moet wees nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.