Man vas ná motoriste ‘verkeersboetes’ aan hom betaal

Argieffoto: Departement van verkeersveiligheid

Argieffoto: Departement van verkeersveiligheid

ʼn 60-jarige man wat hom as ʼn verkeersbeampte voorgedoen het en mense oortuig het om hul verkeersboetes direk aan hom te betaal, is Vrydag deur die polisie vasgetrek.

JP Smith, Kaapstadse burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het gesê die man is Vrydagaand in Mitchells Plain vasgetrek. Hy het glo motoriste met agterstallige verkeersboetes genader en gesê betalings kan direk aan hom gedoen word. Hy het die motoriste kwitansies belowe, maar dit nooit aan hulle gelewer nie.

“Die slagoffers het eers besef hulle is om die bos gelei toe hulle lasbriewe vir die agterstallige boetes ontvang het,” het hy gesê. Die Stad Kaapstad ondersoek ook of die verdagte moontlik ʼn medepligtige in die verkeersdienste gehad het.

“Daar is geen kortpad vir verkeersoortredings nie,” het Smith gesê. “Dit is ʼn oortreding om geld vir enige beampte aan te bied in ruil vir ʼn guns of voordeel wat nie met die Stad se verkeersbeleid ooreenstem nie. Enige verdagte optrede moet dadelik by die Stad aangemeld word by 021 596 1999.”

ʼn Klag van korrupsie is teen die man aanhangig gemaak en hy is tans by die Grassy Park-polisiestasie in aanhouding.

News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Paplepel ·

As daar ‘n gap is, vat hulle hom. Laat dit ‘n les wees vir die oortreders. ‘n Dubbele pak slae. Miskien sal hulle tweekeer dink voor hulle weer ‘n verkeersoortreding begaan…

Theresa ·

Ek stem Paplepel. Hemel, die mense kan darem dinge uitdink wat jou verstand te bowe gaan.

scalla ·

Waar skelmheid betrokke is, is hul baie slim en vindingryk. Bribes was seker te min daai week.

Tammy ·

Ek is al vir spoed gevang en die beampte het vir my gese die boete is R1000. Sonder huiwering het hy bygevoeg, maar as jy kontant betaal (aan hom) is dit net R400…….Vreeslik kwaad het ek vir hom geskree gee die kaartjie vir R1000 jy mors my tyd.. Die uiteinde. Ek het my boete gevat maar hy is sy werk kwyt. Hou my nie met sulke twak op nie. Ongeag hoeveel die kaartjie sou wees. As ek skuldig is en ek weet dit, vat ek my pakslae.

Jana van Jaarsveld ·

Hier by ons is dit ‘n algemene ding hulle vat jou sommer self bank toe sodat jy die geld kan trek en die res van die familie moet langs die pad sit en wag tot hulle terug is. Hierdie probleem gaan nooit opgelos word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.