Man vas ná oudskoolhoof se moord

Gona en Logan Pillay. Foto: Facebook

ʼn Man is Donderdag in hegtenis geneem in verband met die moord op Gona Pillay (63) wat Woensdagaand in haar huis in Silverglen, Chatsworth, in KwaZulu-Natal doodgesteek is.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het gesê die 24-jarige verdagte is ná ʼn deeglike ondersoek vasgetrek. Daar is tydens die inhegtenisneming op die vermoedelike moordwapen beslag gelê en die Pillay-egpaar se motor, wat tydens die aanval gesteel is, is in die Umbumbulu-gebied gevind.

Maroela Media het vroeër berig Pillay en haar man, Logan (67), is Woensdag omstreeks 19:00 deur vier verdagtes in hul huis oorval en verskeie kere met ʼn skerp voorwerp gesteek. Die verdagtes het die huis, wat te koop is, binnegekom onder die voorwendsel dat hulle na die huis wou kyk.

Pillay is op die toneel dood, terwyl Logan in ʼn ernstige toestand na ʼn hospitaal gehaas is.

Die Chatsworth Rising Sun berig die man wat in hegtenis geneem is, werk as ʼn intern by ʼn bekende eiendomsmaatskappy. Dit is nie duidelik of die man by die verkoop van die egpaar se huis betrokke was nie. Gwala wou egter nie oor hierdie bewering kommentaar lewer nie.

Pillay was ‘n voormalige skoolhoof by die Southlands Secondary School.

Die verdagte sal Dinsdag in die Chatsworth-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, poging tot moord en roof. Volgens Gwala word nog inhegtenisnemings verwag.

Genl.maj. Bheki Langa, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die polisiebeamptes geloof vir die vinnige inhegtenisneming en gesê hy hoop die inhegtenisneming bring ʼn mate van vertroosting vir die Pillay-egpaar se naasbestaandes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.