Man vas ná Piet Retief-vrou se moord

(Argieffoto: SA Polisie)

ʼn 53-jarige man is in hegtenis geneem nadat die liggaam van sy vrou in ʼn veld by die Ezinkonjaneni-plantasie naby Piet Retief in Mpumalanga gevind is.

Lindokuhle Zwane is Maandag as vermis aangemeld. Twee dae later het werkers by die plantasie op haar lewelose liggaam afgekom en die polisie ontbied.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, sê paramedici het Zwane op die toneel dood verklaar. Haar man is in kennis gestel en het haar liggaam geïdentifiseer.

“ʼn Ondersoek is van stapel gestuur en inligting het die polisie na die man se werkplek gelei, waar hulle sy bakkie deursoek het. ʼn Vuurwapen is gevind en wat gelyk het na bloedspatsels op die sitplek.

“Die man is in hegtenis geneem en aangekla.”

Die verdagte verskyn na verwagting Vrydag in die Piet Retief-landdroshof op ʼn aanklag van moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen.

Die provinsiale polisiehoof het haar misnoeë met die voortgesette vlaag geslagsgeweld te kenne gegee en het onderneem dat die polisie alles moontlik sal doen om die oortreders vas te trek.

“Die provinsie is die afgelope paar weke geteister deur geweld teen vroue en kinders. Ons gaan voort om te stry teen hierdie vlaag,” sê lt.genl. Semakaleng Manamela.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.