Man vas ná rooftog by Irene Village Mall

Die Telkom-winkel by Irene Village Mall. Foto: Irene Village Mall/Facebook

Die Telkom-winkel by Irene Village Mall. Foto: Irene Village Mall/Facebook

Die polisie het ʼn verdagte in hegtenis geneem en op ʼn gekaapte voertuig beslag gelê na Vrydagmiddag se rooftog by die Irene Village Mall.

Volgens die polisie het drie verdagtes omstreeks 13:20 die Telkom-winkel binnegegaan en hulle as klante voorgedoen. Die verdagtes het die bestuurder van die winkel met ʼn vuurwapen gedreig en op die kluis se sleutels aangedring. Hulle het met selfone en kontant gevlug.

Fietca van der Merwe, bemarkingsbestuurder van die sentrum, het gesê die bestuur het die paniekknoppie gedruk nadat die verdagtes gevlug het. “Veiligheidswagte het onmiddellik reageer en die polisie in kennis gestel. Die veiligheidswagte het die verdagtes agternagesit en ʼn skietery het in die parkeerarea uitgebreek voor die verdagtes in ʼn blou Audi A4 gevlug het.”

Volgens die polisie het een van die verdagtes in die Audi gevlug terwyl die ander twee in ʼn Quantum-bussie gevlug het. Die polisie het die verdagte in die Audi in Olifantsfonteinweg voorgekeer en hom in hegtenis geneem. Twee selfone is teruggevind. Die Audi is in Junie vanjaar in Secunda, Mpumalanga gekaap.

Van der Merwe het gesê geen klante was in die winkel tydens die rooftog nie en dat niemand tydens die voorval beseer is nie. Die polisie se ondersoek duur voort.

Klik hier vir vorige berigte van rooftogte by winkelsentrums.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.