Man vas na swanger vrou se moord

Tshegofatso Pule (Foto: Twitter)

ʼn 31-jarige man is in hegtenis geneem in verband met die moord op die swanger Tshegofatso Pule.

Pule, wat agt maande swanger was, se liggaam is verlede week met steekwonde en opgehang aan ʼn boom in Roodepoort aan die Wes-Rand aangetref. Sy is sowat twee weke gelede die laaste keer gesien toe sy in ʼn taxi geklim het wat haar kêrel vir haar gereël het.

Sy is verlede week in Soweto begrawe.

Die man is tydens ʼn intelligensiegedrewe operasie in hegtenis geneem nadat hy in Mpumalanga was. Hy verskyn Woensdag in die Roodepoort-landdroshof.

Lt.genl. Elias Mawela, Gautengse polisiehoof, het die polisie vir die spoedige inhegtenisneming geloof. Die ondersoek duur steeds voort en Mawela het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om met inligting oor die gru-moord na vore te kom.

Dit is nie duidelik of Pule se moordenaar aan haar bekend was nie.

Die inhegtenisneming kom kort nadat ʼn verdagte in ʼn afsonderlike moord – dié op ʼn 42-jarige vrou van Eersterus in Pretoria die afgelope naweek – ook aangekeer is. Die vrou se liggaam is Sondag in ʼn buitekamer aangetref.

ʼn 50-jarige man is in Eldoradopark in Johannesburg in verband met die moord aangekeer.

Maroela Media het vroeër berig ’n voorlopige ondersoek dui daarop dat die slagoffer se vriend Sondagoggend ’n familielid geld vir vervoer gevra het nadat hy glo ʼn nuwe werk gekry het. Hy was die laaste persoon wat kontak met die slagoffer voor haar dood gehad het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.