ʼn 30-jarige man is Woensdag in hegtenis geneem nadat hy glo onlangs ʼn vrou in ʼn begraafplaas in die Oos-Rand verkrag en haar kêrel vermoor het.
Twee mans het op 28 Julie die 18-jarige vrou en haar 24-jarige kêrel genader terwyl hulle by ʼn park in Katlehong was. Hulle is met messe en ʼn sambok gedreig en gedwing om na ʼn nabygeleë begraafplaas te gaan.
“Die vrou is verkrag en haar kêrel is erg aangerand,” het kapt. Mega Ndobe, ʼn polisiewoordvoerder van Gauteng, gesê. Die man is ná die aanval na ʼn hospitaal geneem waar hy aan sy beserings beswyk het.
Die polisie is steeds op soek na ʼn tweede verdagte.
Die man moet binnekort in die Palm Ridge-landdroshof verskyn.