Man vas ná Verulam-plaasaanval

'n Bejaarde egpaar is in die vroeë oggendure in hul plaashuis oorval. Foto: Verskaf

‘n Bejaarde egpaar is in die vroeë oggendure in hul plaashuis oorval. Foto: Verskaf

ʼn 43-jarige man is in hegtenis geneem in verband met die aanval in die vroeë oggendure Woensdag op ʼn bejaarde egpaar op ʼn plaas in KwaZulu-Natal, waartydens die man met ʼn spies aangerand en die vrou glo verkrag is.

Lt.kol. Thulani Zwane, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die verdagte is laat Woensdagmiddag deur die Ndwedwe-polisie in die omgewing vasgetrek.

“Die man staan tereg op aanklagte van huisroof en verkragting. Hy sal Vrydag in die Ndwedwe-landdroshof verskyn,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër berig die egpaar is omstreeks 02:30 op hul plaas in die Oakford-omgewing, noord van Verulam, deur ʼn man oorval en beroof.

Prem Balram, direkteur van die veiligheidsmaatskappy Reaction Unit South Africa, het ná die voorval aan Maroela Media gesê hul veiligheidsbeamptes is omstreeks 02:58 ontbied.

“Die huis was met bloed besmeer. ʼn Man, wat met ʼn spies gewapen was, het die egpaar, wat albei in hul 70’s is, se deur oopgebreek,” het Balram gesê.

Die aanvaller het die man met die spies aangerand terwyl hy op waardevolle items aangedring het. “Hy het die vrou daarna na ʼn bos gesleep, waar hy haar glo verkrag het. Die vrou het die aanvaller herken as iemand wat in die omgewing woon. Sy kon daarin slaag om te ontsnap en het na die bure gehardloop vir hulp.”

Die bure het Reaction Unit South Africa en die polisie ontbied.

Die egpaar is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir behandeling. Volgens die polisie het die man hoofbeserings opgedoen en is albei slagoffers in ʼn stabiele toestand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Delia ·

Ja Bokkie, seg ek ook….definitief poging tot moord!
Of aanranding met die doel om te moor..?.

Sienie ·

Vader van genade, hoe weerloos is ons mense en hoe lank sal dit so aanhou?

Wern ·

Ek hoop die Indier gemeenskap kan uitvind wie dit is en waar hulle bly. Hulle het baie sterker sosiale bande as ons en hulle kan hulleself goed oppas, en ons kan by hulle leer om mekaar meer te wardeer.

KarooKlong ·

Goeie opvolgwerk Ndwedwe SAPD en te danke aan die vrou.
Sterkte en voorspoed aan die egpaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.