Man vas ná vlaag geweld in Nyanga

Argieffoto

Argieffoto

Die Wes-Kaapse polisie het Woensdag ʼn 25-jarige man in hegtenis geneem op aanklag van poging tot moord ná ʼn vlaag van geweld in Nyanga Dinsdagaand.

Konst. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het bevestig die man is in hegtenis geneem nadat ʼn man in ʼn skietvoorval beseer is. Die verdagte sal binnekort in die hof verskyn op aanklag van poging tot moord.

Die voorval was egter een van vele Dinsdagaand in Nyanga, ʼn gebied wat berug is as die “moord-hoofstad” in Suid-Afrika.

“Volgens berigte is ʼn 43-jarige man omstreeks 18:50 deur twee verdagtes geskiet terwyl hy in sy motor in Sibinilaan gesit het. Die slagoffer is hospitaal toe geneem waar hy met sy aankoms dood verklaar is,” het Rwexana gesê.

In nog ʼn voorval het drie verdagtes omstreeks 23:00 die aand na ʼn huis in die gebied gegaan waar hulle ʼn 83-jarige vrou, wat na haar kleinseun omgesien het, doodgeskiet het. Rwexana het gesê die verdagtes is hierna na ʼn huis in Kuqalalaan waar ʼn 8-jarige seun en 15-jarige meisie doodgeskiet is. Nog ʼn kind, ʼn 7-jarige meisie, is ook geskiet en hospitaal toe geneem.

Vier sake van moord en twee van poging tot moord word ondersoek.

“Enigiemand met meer inligting oor die voorvalle en waar die verdagtes hulle bevind, word versoek om die Nyanga-speurders by 021 380 3320 of Crime Stop by 08600 10111 te bel,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.