Man vas ná vrou in N14-botsing sterf

Die ongelukstoneel. Foto: Twitter

Die ongelukstoneel. Foto: Twitter

ʼn Man is in hegtenis geneem ná Woensdag se botsing op die N14 in Monavoni, Centurion, waarin ʼn vrou dood en ʼn man en twee kinders ernstig beseer is.

Kapt. Agnes Huma, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die man is tans in aanhouding en ʼn klag van strafbare manslag is aanhangig gemaak. Die man het egter nog nie in die hof verskyn nie en daarom kan geen verdere besonderhede in hierdie stadium bekendgemaak word nie.

Huma kon nie bewerings bevestig dat een van die voertuie wat in die botsing betrokke was ’n gesteelde voertuig is nie en het gesê daar is nie ʼn klag van diefstal aanhangig gemaak nie.

Santi Steinmann, woordvoerder van Netcare 911, het gesê twee motors, ’n ligte afleweringsvoertuig en ’n swaar goederevragmotor was in die ongeluk betrokke. Volgens Steinmann het een van die motors glo agter teen die swaar goederevragmotor vasgery waarna die motor teen die ligte afleweringsvoertuig en die ander motor gebots het.

Die motors en die ligte afleweringsvoertuig het omgeslaan en die motor het op sy dak tot stilstand gekom. ’n Vrou wat in die ligte afleweringsvoertuig gery het, is op die toneel dood verklaar. ’n Man en ’n sewejarige seun het ernstige beserings opgedoen terwyl ’n vyfjarige meisie kritiek beseer is in die ongeluk.

Al die beseerdes was insittendes van die ligte afleweringsvoertuig. Die insittendes van die ander voertuie is nie in die ongeluk beseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan Ehlers ·

Centurion Ongeluk 2 April.
Die vyfjarige meisie is ook gisteraand oorlede. Hoe moet die Pa en Eggenoot voel?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.