Man vas ná vrou se lyk in vlak graf gevind is  

(Foto: SA Polisie)

ʼn 34-jarige man is in hegtenis geneem nadat die liggaam van ʼn vrou in ʼn vlak graf in Sharpeville in Sedibeng gevind is.

Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, het gesê naasbestaandes van die vrou het die man gekonfronteer nadat hulle haar sedert Kersdag nie kon opspoor nie. Die man en die oorledene was in ʼn verhouding en het saam gewoon.

“Die naasbestaandes is saam met die man na die Sharpeville-polisiestasie om ʼn saak van ʼn vermiste persoon aan te meld nadat die man gesê hy weet nie waar die vrou haar bevind nie.”

Die polisie se voorlopige ondersoek het hulle na die man se huis in Sharpeville gelei. “Beamptes het ʼn stank geruik en dadelik nog bystand ontbied, insluitend snuffelhonde. Die 44-jarige vrou se liggaam is in ʼn vlak graf op die erf gevind.”

Die vrou se liggaam is opgegrawe en die identiteit van die oorledene is daarna deur familielede bevestig.

Die man is op die toneel in hegtenis geneem en sal na verwagting Donderdag in die Vereeniging-landdroshof verskyn op aanklag van moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.