Wat net ʼn vriendelike besoek aan ʼn vriend van ʼn vriendin sou wees, het vir ʼn jong vrou van Kaapstad in ʼn vyf maande lange hel van mensehandel, dwelmgebruik en prostitusie ontaard.
Die 21-jarige vrou se beproewing het eers onlangs tot ʼn einde gekom nadat sy daarin kon slaag om te ontsnap.
Kapt. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, het gesê die man wat na bewering die vrou maande lank aangehou het, is die afgelope naweek in hegtenis geneem.
Volgens Nkwalase het die vrou in Februarie saam met ʼn vriendin gegaan om die verdagte in Bellville te besoek. “Nadat sy aan die verdagte voorgestel is, het haar vriendin verdwyn en nooit teruggekeer nie. Die vrou is daarna glo verblyf gegee en in ʼn lewe van dwelmgebruik en prostitusie ingedwing.”
Nadat die vrou ontsnap het, is die voorval by die owerhede aangemeld en die 40-jarige verdagte is in hegtenis geneem. Hy sal vandeesweek in die Bellville-landdroshof verskyn op aanklagte wat met mensehandel verband hou.
Nog inhegtenisnemings word verwag.
Die berig laat my dink aan die boek: Van skoolbank tot bordeel. Geskryf deur Jaco Hough-Coetzee en Elanie Kruger.
Presies aan die boek ook gedink toe ek die artikel lees.
Onskuldig vasgevang deur ‘n bose man? Ek ruik rot.
Dit wil voorkom asof die sogenaamde vriendin betrokke is by ‘mensehandel’ aangesien sy verdwyn het.
ek hoop haar vriendin se inhegtenisneming is een van die verwagtes. sommer haar familie wie haar nie as vermis aangemeld het nie, ook. wat n siek land woon ons nie in nie!
Waarom nie die vriendin ook invat nie? Duidelik is dit haar werk om vroue te werf vir die “vriend” van haar?
Goeie genade! Wie het vyande nodig as jy so ‘n nare vriendin het? Ek is bly sy kon ontsnap. Hoop sy kom oor die trauma.
Is daar meer as 1 verdagtes , julle berig lees ”en die 40-jarige verdagtes”
Dagsê Jan Maak n Plan
Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die vingerfout. Die berig is reeds gewysig.
Groetnis
Tania nms Maroela Media