Man vas ná Westbury-ma se skietdood

Peterson se liggaam in ’n steeg in Westbury kort na die skietvoorval. Foto: Twitter via Yusuf Abramjee

ʼn Man is in hegtenis geneem vir die moord op Heather Peterson (45) wat verlede maand dood is nadat sy in die kruisvuur van ʼn vermoedelike bendeskietery in Westbury, Johannesburg, beland het.

ʼn Tienjarige meisie wat saam met Peterson was ten tyde van haar moord, is in die skietery gewond.

Kapt. Kay Makhubele, woordvoerder van die polisie, sê die polisie se ondersoek en inligting uit die gemeenskap het hulle Sondagmiddag na ʼn huis in Krugersdorp gelei waar ʼn 32-jarige man in hegtenis geneem is. Hy sal binnekort op aanklag van moord en poging tot moord in die hof verskyn.

Peterson se moord het tot gewelddadige betogings in Westbury gelei toe die gemeenskap daarop aangedring het dat owerhede dringend ingryp om bendebedrywighede en gepaardgaande geweld in dié gebied hok te slaan. Bheki Cele, minister van polisie, het Westbury vroeg vandeesmaand besoek en opdrag gegee dat ʼn taktiese reaksiespan bekend as ‘Amabharete’ onmiddellik ontplooi word om die strate van Westbury te beveilig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.